Dié kunstenaar is op pad Engeland toe
JJ Clark,’n kunstenaar van Mookgophong, is genooi om sy werk in November by The UK Contemporary Art Fair in Windsor, Engeland, uit te stal.
Clark het besluit om nou ook vir die eerste keer ’n uitstalling in sy tuisdorp, Mookgophong, te hou. Die uitstalling, in samewerking met nog ’n plaaslike kunstenaar, Corietha Müller, sal op Saterdag 3 Augustus, by Naboom Village Lodge gehou word.
’n Skildery ter waarde van R5 000 sal tydens dié uitstalling uitgeloot word om geld in te samel vir sy reis na Engeland.
Clark stal gereeld by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Pietermaritzburg Art in the Park, Innibos-fees, Decorex, Spring Festival (Magoebaskloof) en Aardklop uit. Sy werke is ook te sien by The Showroom Art Galery (Pretoria), Robert Badenhorst Galery (Clarens), Dante Art Galery (Somerset-Wes) en Robertson Galery (Robertson).
Hy skilder die afgelope vyf jaar voltyds nadat hy die korporatiewe wêreld vaarwel geroep en na ’n plaas buite Mookgophong verhuis het.
Clark het ’n BSc-honneursgraad in wiskundige statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en was vir 20 jaar in die rekenaarbedryf. Hy het sy kunsvakmanskap deeltyds aan Open Windows School of Art in Pretoria voltooi en ook ’n BA-graad in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Hy het sy eerste skildery in 2014 by die Windpompfees in Mookgophong verkoop en sedertdien is sy werke in aanvraag.
Die inspirasie vir sy huidige tema, Nguni-beeste, spruit uit sy daaglikse werk met dié beesras. Volgens Clark wil hy Nguni-beeste met siel, waardigheid en respek uitbeeld. “Ek wil hê hulle moet as meer as net kommersiële kommoditeite raakgesien word. Ek doen daarom portretstudies van die beeste, soortgelyk aan hoe adellikes vanmelewe op doek deur die ou meesters vasgevang is. Ek vind organiese vorme, teksture, kleure en patrone in die natuur, asook die effek wat lig, skaduwee en refleksies bied, baie inspirerend,” het hy aan Die Pos gesê.
Clark hou van die donker, atmosferiese werk van Rembrandt van Rijn en Michelangelo da Caravaggio, die vasvang van lig in Johannes Vermeer se werk en die subtiele delikate aanwending van medium in James Whistler se werk.
Sy planne vir die res van die jaar, voordat hy na Engeland vertrek, is om in September by Karoo Kafee in Pretoria saam met The Secret Art Society ’n uitstalling te hou en in Oktober is hy genooi om saam met agt ander kunstenaars by Aardklop aan ’n privaat uitstalling deel te neem.
Dit is vir hom belangrik om elke dag voluit aan te pak en nooit op te hou leer nie.
“Respekteer ander mense en wees altyd beleefd. Ek hou van mense met hierdie uitgangspunt en wat met ’n positiewe, dog objektiewe uitkyk, die lewe aanpak,” het hy gesê.
Kontak hom by jayjayclark@gmail.com of volg sy Facebook-blad by www.facebook.com/JJClarkArt(.)