Local newsNews

Geldsake druk dalk hawe se deure toe

“Klub Helpmekaar kan dit nie finansieël bekostig om betrek te word by enige agterstallige rekeninge en skade wat die inwoners van Abbamekaar aan munisipale eiendom veroorsaak nie.”

Abbamekaar, wat jare lank ’n tydelike vei-lige hawe gebied het vir mense wat hulself op straat bevind het, se deure sluit moontlik eersdaags.

Die geldelik knyptang waarin talle nie-winsgewende organisasies hul bevind, bedreig ook dié instansie van Modimolle se voortbestaan.

Inwoners van dié deurgangshawe het aan die einde van Mei briewe ontvang dat die hawe amptelik op Woensdag 31 Augustus sy deure sluit. Volgens Stephen Kloppers, voorsitter van Klub Helpmekaar, wat Abbamekaar bestuur, het geldelike druk hulle genoop om dié moeilike stap te neem. “Ons moes die besluit neem om eerder vir meer mense deur Klub Helpmekaar kos te gee, as om te probeer om die geldelike las van Abbamekaar te probeer dra,” het hy gesê.

Abbamekaar bied tydelike huisvesting teen R250 per maand aan vir 10 tot 12 mense wat nie ’n ander heenkome het nie vir ’n tydperk van nie langer as drie maande nie. Van die inwoners woon egter glo al langer as ’n jaar op die perseel.

Abbamekaar het tot stand gekom nadat Angelo Abbatemarco, bekende sakeman, die grond geskenk het. Die doel was om tydelike basiese huisvesting aan mense te bied sodat hulle weer op hul voete kon kom.

Pieter van Oudtshoorn, wat die hulporganisasie Klub Helpmekaar in 2000 gestig het, het betrokke geraak by die inisiatief en Klub Helpmekaar het Abbamekaar bestuur. Mettertyd het die twee organisasies verweef geraak.

Klub Helpmekaar verskaf weekliks kos aan sowat 240 hulpbehoewendes. Elke drie maande kry elkeen wat geregistreer is, ook twee stelle klere. Hulle bied ook ondersteuning aan bejaardes.

Oortollige klere wat geskenk is, word verkoop uit hul winkel in Van Riebeeckstraat om hul oorhoofse uitgawes te dek. Dié niewinsgewende organisasie maak staat op skenkings en hulp uit die gemeenskap om kop bo water te hou.

In ’n brief aan inwoners sê Klub Helpmekaar dat daar onsekerheid is oor die direkteurskap van Erf 504 Pty Limited (Abbamekaar-huisvesting), ná Abbatemarco se dood in 2010, asook Van Oudtshoorn se verswakkende gesondheid. Dit skep op sy beurt onsekerheid oor die verantwoordelikheid vir munisipale rekeninge.

“Klub Helpmekaar kan dit nie finansieël bekostig om betrek te word by enige agterstallige rekeninge en skade wat die inwoners van Abbamekaar aan munisipale eiendom veroorsaak nie,” het die brief gelui.

Ongedissiplineerde optrede van inwoners, asook vandalisme van die eiendom, is glo bydraende faktore. Sowat R30 000 se instandhoudingswerk is verlede jaar gedoen om die badkamers op te gradeer.

In ’n latere brief aan inwoners het Klub Helpmekaar gesê hoewel hulle bande met Abbamekaar verbreek het, kan inwoners op die Abbamekaar-perseel aanbly indien hulle uit eie geledere ’n komitee saamstel wat aansoek vir ’n eie waterrekening by die munisipaliteit sal doen en geld by inwoners sal invorder vir die betaling van die rekening en erfbelasting. Inwoners sal self moet besluit oor toelatings- en uitsettingsvereistes, die geboue in stand moet hou en onderling dissipline toepas.

Volgens ds. Danie Ueckermann, voorsitter van Klub Helpmekaar se advieskomitee, het hulle by gemeentes in die dorp geadverteer vir iemand om die bestuur van Abbamekaar oor te neem. “Ons het egter geen reaksie gekry nie. Ons hoop steeds dat daar iemand na vore sal kom.”

Related Articles

Back to top button