Local newsNews

Vaalwater kry moontlik ’n ‘markplein’

Die boeresaal in Vaalwater, wat reeds in 1955 gebou is, trek hopelik eersdaags ’n nuwe baadjie aan en daar is ook vooruitsigte vir ’n regte “markplein” vir die inwoners van Vaalwater.

Die saal is die eiendom van ’n trust wat deur die North Waterberg Farmers Hall (NWFH) begin en in Oktober 2018 deur die St. John’s-gemeente oorgeneem is met die oog daarop om die gebou op te knap en te verander sodat dit as vergadersaal vir gemeenskapsaktiwiteite kan dien.

Die statige ontwerpte saal was destyds ’n swierige uithangplek. Die oorspronklike ontwerp en bouwerk van die gebou is deur boere en inwoners van die omgewing self behartig. Die lys van stigterslede en bekende families wat bygedra het, is aan Die Pos verskaf deur dr. Peter Farrant, bekende pediater van Vaalwater. Dié lys sluit die vanne Chaney, Clover, Cole, Davidson, Farrant, Furman, Gluckman, Grewar, Greig, Johnson, Kelsall, Kirkman, Nel en Palliser in.

Farrant se oupa, John (beter bekend as Jack) Farrant het die grond destyds geskenk. Die gemeenskap, en onder andere Farrant se pa, Rupert, het fondsinsamelingsprojekte gehou en was self by die bouproses betrokke.

Daardie jare was die Vaalwater Woman’s Club ook baie bedrywig en baie van hul byeenkomste en landbouskoue is daar aangebied.

Shane Dowinton, senior kerkleier by St. John’s en sy vrou, Laura (53), is deesdae betrokke by die projek om die saal weer in ere te herstel. Dié kerkgenootskap huur sedert 2009 die gebou om die River of Life-dienste op Sondae te hou.

Alle geld wat ingesamel word, word in die opknappingsfonds gestort.

Laura het aan Die Pos gesê dit het aanvanklik gevoel asof die gebou se onderhoud en opknapping ’n bodemlose put was, maar ná ’n onlangse skenking van die Elizabeth Margaret Steyn-stigting het hulle weer momentum gekry. Die oorspronklike tennisbane word onder meer nou opgeknap en ’n netbalbaan, gholfafslaanblad, ’n setperk en muurbalbaan is ook in die vooruitsig.

Die gebou was vir bykans ses maande sonder watertoevoer, maar dit is ook nou weer herstel.

Die NWFH beoog ook om ’n markterrein op te rig waar die gemeenskap hul produkte kan verkoop.

Related Articles

Back to top button