Local newsNews

Rivieroewer is nou skoon

“Die projek is geloods nadat ons klagtes van inwoners en die departement van korrektiewe dienste ontvang het oor kriminele aktiwiteite in die digbeboste dele.”

Die digbegroeide oewers van die Klein Nylrivier wat deur Modimolle kronkel, gaan ontbos word ter wille van veiligheid.

Die Modimolle-polisie het die afgelope week ’n brief aan ondernemings gestuur om diegene wat bydraes wil lewer in die vorm van brandstof, olie en gif, te nooi om hulle te kontak.

“Die projek is geloods nadat ons klagtes van inwoners en die departement van korrektiewe dienste ontvang het oor kriminele aktiwiteite in die digbeboste dele. Ons het al herhaaldelik ervaar dat die bosse skuiling bied aan dwelmhandelaars, prostitute en kriminele wat dit as ontsnappingsroetes gebruik om die polisie te ontvlug,” het AO Pieter Booyse, projekleier, gesê.

Booyse is verantwoordelik vir landelike en gemeenskapsveiligheid in die dorp.

Die lang gras om die dorpsdam en langs korrektiewe dienste se sentrum is ook op Maandag 10 Junie afgebrand om kriminele aktiwiteite in daardie gebied te probeer hokslaan.

Die beplanning is om die rivier vanaf die Vaalwaterpad tot by Joe Slovostraat te ontbos. Leë standplase sal ook skoongemaak word.

“Daar is op hierdie stadium twee spanne boomsnyers uit die gemeenskap wat hul eie toerusting gebruik om bome langs die rivier af te sny. Hulle doen dit gratis. Die departement van landbou verskaf van die toerusting en Working on Fire is ook betrokke,” het Booyse gesê.

“Ons hoop dat ons later ’n gemeenskapsprojek kan loods om al die plastiek en glas langs die rivier op te tel,” het hy gesê.

Vir meer inligting, bel vir Booyse by tel. 082 850 3419.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button