Local newsNews

Inwoners vies oor advertensiebord

“If it’s dirty, kinky, naughty, messy or just plain wrong, I want it!”

’n Bekende sakeman van Mookgophong, Paul Brits, het baie inwoners warm onder die kraag gehad toe daar ’n omstrede advertensiebord op die perseel van sy nuwe onderneming in 5e Straat opgerig is.

Dié bord met die woorde: “If it’s dirty, kinky, naughty, messy or just plain wrong, I want it, — Gentlemen’s Club Coming Soon” is intussen verwyder.

Brits het in ’n onderhoud met Die Pos alle bewerings ontken dat daar ’n “ongewenste klub” sy deure sal open. Volgens hom beplan hy om wel ’n “gentlemens club” te open, maar “nie dié soort klubs wat ek in Pretoria besit nie”. Hy wou egter nie presies vertel wat hy beplan nie.

“Mense moet hulle neuse uit my sake hou. My besigheid is my besigheid,” het hy aan Die Pos gesê. “Gaan vind uit by die munisipaliteit: die erf is gesoneer vir besigheid,” het hy gesê.
Hy was baie beslis dat daar ook nie ’n skrootwerf op die perseel geopen sal word nie.

Bewerings dat dié omstrede bord net voorbrand is vir ’n nuwe skrootwerf wat in die dorp geopen gaan word, het ook die ronde gedoen.

Brits het egter gesê dié bewerings is ook onwaar. Hy het gesê dat hy noodgedwonge weens tydsberekening en kostedoeltreffendheidheid, die treinskroot wat op die perseel gelê het, daar moes laat verwerk. Dit is silwer wat van treine afkomstig is en het ’n goeie markwaarde, het Brits gesê. Hy het bygevoeg dat hy kontrakte met die regering het om ou treine wat uit diens gestel is, aan te koop en te verwerk.

Sowat 80 mense, met uiteenlopende kommentare, het op die Naboom-gemeenskapsgroep se sosiale mediaplatform se plasing hieroor gereageer. Die meeste mense was erg geskok oor die advertensiebord en die bewoording daarvan en het geskryf dat dit beslis nie in goeie smaak val nie.

Een inwoner het aan Die Pos gesê dat dit nie opbouend is om so ’n bord op te rig nie en dat dit dubbelsinnig bewoord is.

“Ons sal seker nou maar moet wag en sien wat kom,” het nog ’n anonieme inwoner gesê.

Related Articles

Back to top button