Local newsNews

Dít is hoe ’n koerant werk…

Ek het ervaar dat dit soms bloedsweet verg om doelwitte te bereik of selfs net ’n koerant op straat uit te bring.

As ’n student in kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom en inwoner van Bela-Bela, kon niks my voorberei op die duisende vlinders in my maag toe ek die eerste dag by Die Pos ingestap het nie.

Ondervinding in die mediabedryf is ’n aanbeveling vir die kursus wat ek volg en daarom het ek dié vakansie by my plaaslike koerant aangeklop vir my internskap.

Agter vriendelike gesigte het ek soms die spanning ervaar van sperdatums, korrekte formate van teks, treffende advertensies en foto’s en genoeg nuus om 24 of 32 bladsye te vul.

Ek het ervaar dat dit soms bloedsweet verg om doelwitte te bereik of selfs net ’n koerant op straat uit te bring.

Ek het dieselfde spanning ervaar net om op my eerste dag by die koerant die telefone te beman. Sê nou ek kan nie die kliënt se navraag beantwoord nie? Wat as ek nie die oproep reg deurskakel nie? Hoe gemaak met ’n ongeduldige kliënt?

Ek het nog altyd belang gestel in ’n beroep in die joernalistiek of skryfwêreld, maar my vakansiewerk by Die Pos het my laat besef hoeveel druk daar op die media rus. Ek het uitgevind dat ’n berig nie net geskryf word nie, maar fyn beplan, nagevors en uitgevoer moet word. Ek het ook besef dat daar dikwels “’n storie ágter die storie is”.

My take het gewissel van papiere versnipper, berigte proeflees en saam met verslaggewers op stories uitgaan tot liefdadigheidswerk vir Die Pos se kinderfonds. Saans by die huis kon ek nie wag om die dag se opwinding met my ouers te deel nie.

Dit was beslis ’n belewenis om die proses van “koerantopmaak” mee te maak — van daardie eerste oproep totdat ons vroeg op ’n Donderdagoggend die varsgedrukte koerant in die hand het.

Die Pos is ’n hegte familie waar elkeen sy eie rol speel en dit was werklik ’n eer en voorreg om vir ’n rukkie deel van hierdie familie te wees en te ervaar hoe almal mekaar ondersteun — in die goeie en die minder goeie tye.

Related Articles

Back to top button