Local newsNews

Sy droom dat almal die ware brugbouer sal ontmoet

Die inwoners van Vaalwater weet wat die term brugbouer beteken.

In ons klein dorpie moet almal vir mekaar omgee, mekaar bemoedig en soms in die bresse tree. Die Pos het gaan inloer by Esbé (61) en Johan Joubert (62) wat al 38 jaar in Vaalwater woon en daagliks vir ander tot hulp en ondersteuning is.

Die Jouberts is geseënd met ’n pragtige tuin.

“Ons het die erf destyds teen ’n appel en ’n ei gekoop ná ’n redelike deurmekaar begin in Vaalwater. Johan het restourasiewerk begin doen en ons het self die huis stuk-stuk begin bou,” het Elsabé vertel Die Jouberts het só gebou dat daar nou nog ruimte vir ekstra gastekamers is om hul gastehuis, “The Orchid Guest Home”, uit te brei. Die Pos het vir Esbé ’n paar vrae gevra.

Watter liefdadigheidsinstansie lê jou na aan die hart?

Waterberg vir Jesus is ’n nie-winsgewende organisasie wat vyf jaar gelede deur my man en ’n paar van sy vriende begin is. Dit was aanvanklik net vir evangelisasie-doel-
eindes. Ons het die behoefte in Vaalwater raakgesien en later ook sprekers begin kry. Aan die begin van verlede jaar het ons ’n nuwe been, naamlik dié van barmhartig-
heidsdiens begin. Dit is hoofsaaklik vir enkelvroue met kinders wat in nood verkeer. Ons wil ’n tuiste skep en hulle oplei en vaardighede aanleer sodat hulle hul volwaardige plek in die samelewing kan inneem. Ons het groot planne om ’n perseel te bekom en geld in te samel.

Watter sosiale media gebruik jy?

WhatsApp. Dit is baie handig en maklik om te gebruik, veral met gastehuisbesprekings en vir die hondesalon in my ateljee. Ek gebruik natuurlik ook e-posse. Ons het so agt jaar gelede aansoek gedoen om as ’n plek van veiligheid te registreer. Dit beteken dat ons kinders vir ’n oorbruggingstyd inneem totdat hul ouers of familie weer hul voete gevind het. Die toeganklikheid van sosiale media laat alles gladder verloop. Ek stuur ook graag boodskappe of Bybelverse van bemoediging op groepe en hou daarvan om dit te ontvang.

As jy R1 miljoen sou kry om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?

My hart lê by Waterberg vir Jesus se barmhartigheidsdiens. Dit gaan vir my oor mense se siele. Voor dit nie reg is nie, kan jy aan niks bou nie.

Wat dink jy is die toekoms van klein Suid-Afrikaanse dorpies soos Vaalwater, Bela-Bela en Modimolle?

Ek probeer om nie my kop te breek oor goed wat buite my beheer is nie. Ek bid vir ons gemeenskap en ons land. As die Here nie hier is nie, kan niks bestaan nie.

Watter aanhalings inspireer jou?

Moenie aan mense doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Dit is ook so in my advertensies ingewerk.

Watter persoon het jou pad gekruis wat jou oortuig het dit is nodig om brûe te bou?

Ek is lief vir mense, maar ek is nie iemand wat rond kuier nie. Ek word ook nie maklik beïnvloed deur groepsdruk nie. My doel is om vir ander mense iets te beteken.

Hoe sien jy jouself as die dag van aftrede aanbreek?

Ons het nie ’n pensioenfonds nie. Ons het besluit om die gastekamers te bou en sodoende ’n inkomste te genereer. Mense glo dit nie as ek sê ons het net twee kamers se plankvloere gekoop nie; verder is alles vir ons gegee. So het die Here gesorg en Hy sorg nog steeds. Ek is absoluut oortuig daarvan dat Hy sal sorg.

Watter probleem in jou gemeenskap dink jy moet eerste aandag geniet?

Daar is so baie mense wat in die duisternis leef en nie oorwinning kry nie. Die behoefte aan God, afhanklikheid en vertroue in Hom, maak die verskil in die lewe.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?

Ek moes eendag die deure toesluit by die kerk in die dorp waar ek as koster en saakgelastige gedien het, toe twee anderstalige vroue vir my kom sê het dat hulle ook na dié kerk toe wou kom. Die Here het dit op my hart gelê om te sê: “Hoekom kom julle nie na my huis toe nie? Bring nog mense dan hou ons kerk.” My droom is dat almal Jesus moet leer ken, want Hy is die brugbouer van alle tye, vir almal wat Hom aanroep.

Related Articles

Back to top button