Local newsNews

Onbekende man verdrink in dorpsdam

’n Onbekende man het op Maandagoggend 1 Julie in Modimolle verdrink ten aanskoue van talle inwoners.

Die tragedie het net ná 09:00 in die dorpsdam langs die ModiMall afgespeel.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het die man volgens ’n ooggetuie sy klere uitgetrek en in die dam gespring. Hy het glo heen en weer geswem, maar nadat hy na die wal toe geswem het, het hy onder die water verdwyn.

’n Polisieduiker wat inderhaas van Polokwane gekom het, het die koue water van die dorpsdam in Modimolle getrotseer op soek na die liggaam van ’n onbekende man wat verdrink het.

 

Die ooggetuie het glo om die dam geloop om te kyk of hy die man kan sien en hulp ontbied.

Die polisie se soek-en-reddingspan, asook twee polisieduikers wat inderhaas van Polokwane gekom het, het die man se liggaam net ná 11:30 enkele meter van die damwal gevind. ’n Polisieduiker aan wie ’n lyn vasgemaak is, het teen die wal af beweeg terwyl lede van die polisie en die soek-en-reddingspan langsaan op die wal saambeweeg het. Die duiker was slegs ’n kort ruk in die water voordat hy die man se liggaam opgespoor het.

Talle toeskouers het, al gissend oor wat tot die voorval kon lei, die polisie se taak aanskou.

Die meeste het vermoed dat die man in die moeilikheid beland het oor die ysige koue van die water.

Volgens die polisie is die man vermoedelik in sy laat veertigs of vyftigs. Sy identiteit is nie bekend nie. Enigeen met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Ciska Fourie, by tel. 082 927 7756 te skakel.

Related Articles

Back to top button