Local newsNews

Trok vat vlam, verkeer op snelweg erg ontwrig

Die nooddienste was die afgelope week op die N1-snelweg buite Bela-Bela bedrywig nadat verskeie ongelukke plaasgevind het.

’n Vragmotor wat op Sondag 23 Junie om 15:15 noordwaarts vanaf Gauteng op die snelweg gery het, het naby die Codrington-afrit aan die brand geslaan.

Volgens die provinsiale verkeersdepartement, het die brand vermoedelik ontstaan nadat ’n band van die vragmotor gebars het. Die vonke wat deur die wielvelling se kontak op die teerpad veroorsaak is, het die trok se voorkant aan die brand gesteek. ’n Ondersoek na die presiese oorsaak duur voort.

Vier ernstige ongelukke het die afgelope week op die N1-snelweg buite Bela-Bela plaasgevind. Die polisie ondersoek onder meer drie afsonderlike sake van strafbare manslag. Op die foto borrel die rookwolke uit ’n vragmotor wat op Sondag 23 Junie op die snelweg, naby die Codrington-afrit, aan die brand geslaan en vir groot verkeersontwrigting gesorg het. Foto: Reint Dykema

 

Die drywer kon daarin slaag om die trok op die skouer van die snelweg tot stilstand te bring. Hy het daarna van die vlamme weggehardloop en ongedeerd daarvan afgekom.

Die rookwolke het uit die brandende trok geborrel en gesorg vir hewige verkeersvertragings in beide rigtings op dié besige snelweg. Die verkeer is op ’n stadium na die R101-pad deur Bela-Bela herlei. Brandweerdienste het bontgestaan om die brand te blus, maar selfs die omliggende veld het later aan die brand geraak.

Die snelweg is eers weer die aand teen 19:00 vir verkeer oopgestel.

Die wrak van die vragmotor het vir ’n dag of twee langs die snelweg gestaan, maar is intussen verwyder en herstelwerk aan die pad het begin.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat daar op hierdie stadium geen gemene spel vermoed word nie.

  • Intussen het twee kinders, ’n 40-jarige vrou en ’n polisiebeampte, almal van Gauteng, hulle lewens in afsonderlike ongelukke op die snelweg verloor.Op Saterdag 22 Junie is ’n vierjarige dogtertjie, Salfina Khoza, en Ongezwe Ntente(40) oorlede nadat die wit Volkswagen Jetta waarin hul gereis het teen die agterkant van ’n trok gebots het. Albei slagoffers is op die toneel dood verklaar.Maponya het verder gesê dat ’n polisiebeampte van Kempton Park, MA Mabotja (53), op die Sondag 23 Junie om 20:15 dood is toe hy in sy wit Isuzu-bakkie in die agterkant van ’n trok, tussen Bela-Bela en Radium, vasgery het. Hy is op slag dood. Mabotja se vrou het die ongeluk oorleef. Met die ter perse gaan van die koerant het die polisie nog nie haar naam bekend gemaak nie.

    Maponya het voorts gesê dat die jong passasier van ’n Hilux-bakkie op Dinsdag 18 Junie om ongeveer 02:00 in ’n ongeluk op die snelweg gesterf het. Tebogo Makhura (7) was saam met die bestuurder in die voertuig toe dit naby Roodekuil-oorbrug op die snelweg gerol het.

    Die besonderhede van die bestuurder, wat ernstige beserings opgedoen het, is nie bekend nie.

    Die polisie ondersoek tans drie sake van strafbare manslag ná afloop van die laaste week se ongelukke op die snelweg, het Maponya gesê.

Related Articles

Back to top button