Local newsNews

Stank by posbusse walglik, sê inwoners

“Die toestand is onaanvaarbaar. Dis baie onwelriekend en onhigiënies.”

“Ons plaaslike poskantoor het in openbare toilette ontaard!”

Dit is die ontstelde reaksie van ’n inwoner van Modimolle nadat sy by die Suid-Afrikaanse Poskantoor se poshokkies in dié dorp gaan pos uithaal het en gekonfronteer is deur die stank van urine en ontlasting.

Die poskantoor in Modimolle.

 

“Die toestand is onaanvaarbaar. Dis baie onwelriekend en onhigiënies. As plaasbewoners is ons genoodsaak om van hierdie diens gebruik te maak,” het Hettie Briel gesê. “Die perseel kan darem skoongemaak en ontsmet word,” het sy gesê. “Ons vra dat die owerhede dringend aandag aan die saak gee.”

Die poskantoor is in die middel van die sakekern geleë met die hofgebou wat net daaragter lê. Straatverkopers stal hul ware onder die groot boom reg langs die posbusse uit en talle mense sit op die bankies. Sluipslapers oornag ook snags op die bankies. Wanneer SASSA-uitbetalings gedoen word, wemel dié deel van die dorp van mense. “Hier is geen badkamer naby nie en van die mense moet ure lank hier staan,” het ’n motorwag aan Die Pos gesê. Hy het beduie na ’n munisipale badkamer wat slegs 30 m ver van die poskantoor staan, maar waarvan die deure gesluit is.

“As mense sien dit is toe, dan mik hulle sommer vir die stegie langsaan,” beduie hy. Die getuienis hiervan is duidelik. Volgens hom is die enigste ander badkamers by die taxistaanplek in Joe Slovostraat en by motorhawens.

Tydens Die Pos se besoek was die posbusse buite die gebou skoongewas.

Marlene van Staden, die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê dat die munisipaliteit vier openbare badkamers het naamlik twee by die taxistaanplekke, by die poskantoor en in die AS Salaam-woonbuurt. Hul deure is egter toe.

“Die badkamers het erg onder vandaliste deurgeloop. Die raad het ’n besluit geneem dat ons dit wil opgradeer en dan aan ’n individu of ’n taxivereniging verhuur om op te pas en te onderhou. Hulle kan dan R1 of R2 vra vir elkeen wat dit wil gebruik.

Dit sal hopelik beter beheer beteken,” het sy gesê. “Dieselfde probleme geld by die begraafplaas, gemeenskapsale, parke en sportvelde. Oral waar die munisipaliteit fasiliteite bou of opgradeer, word dit gevandaliseer of steel mense die toerusting,” het sy gesê.

Die poskantoor kon nie betyds vir kommentaar bereik word nie. Hul reaksie sal in ’n opvolgberig verskaf word.

Related Articles

Back to top button