Kansa-funksie ’n groot bederf
Die jaarlikse Cuppa vir Kansa was vanjaar weer ’n fênsie affêre en die gaste was ewe deftig volgens die tema “Denim and Diamonds” aagetrek.
Die funksie, wat by Thaba Manzi buite Bela-Bela plaasgevind het, was glansryk en die gasvroue het hul beste “Royal Albert”-teestelle uitgehaal vir die geleentheid. Die tafels is ook volgens die tema gedek.
Sowat 380 gaste het die geleentheid bygewoon en aan die spreker Amore Bekker, die bekende RSG-omroeper, se lippe gehang. Marena Labuschagne en Elmien Grobler het die gaste met ’n duet-sangoptrede vermaak.
Ansie van Heerden, Kansa se gemeenskapsorganiseerder, sê die organisasie bedank elkeen van die borge, gaste en gasvroue wat gehelp het om die funksie ’n reusesukses te maak. ’n Bedrag van R47 000 is vir Kansa ingesamel.
“Ek is trots daarop om deel te wees van ’n Waterberg-gemeenskap wat, waar nodig, omgee en ondersteun. Die gemeenskap se harte is oop vir Kansa en mense sien die groter prentjie van waarom daar fondsinsamelingsprojekte gehou moet word om die nodige diens aan die gemeenskap te lewer,” het Van Heerden gesê.
Sy het inwoners uitgenooi om Kansa se kantoor by Friedbergweg 38 in Modimolle te besoek.