Local newsNews

Vlytige vroue gevra om vir ’n goeie saak voorskote te maak

Daar word weer op Saterdag 7 September vanaf 08:00 basaar by die Naboom Tehuis vir Bejaardes in 8ste Straat 6 in Mookgophong gehou.

Soos in die verlede sal dit ’n vrolike geleentheid wees.

Die voorskootprojek is een van die nuwe afdelings waarmee die organiseerders hoop om alle naaldwerkers en hul vriende te betrek.

Die uitdaging is om ’n pragtige voorskoot vir ’n man of vrou of kind te maak. Die keuse van materiaal, ontwerp en styl berus by die inskrywer. Deur dié voorskote vir die kompetisie in te skryf, help inwoners ook om ’n bydrae te maak tot die Naboom Tehuis vir Bejaardes.

Die voorskote sal op basaardag aan die lyndrade tussen die bome gehang word en deur die besoekers beoordeel word. ’n Stalletjie sal op die terrein wees waar die beoordelingskaarte ingedien kan word. Daar sal drie pryse vir die mooiste voorskote wees. Die eerste prys is R500, die tweede prys R250 en die derde prys is ’n sak vol vars groente. Daar is ook ’n spesiale prys vir die persoon met die meeste inskrywings.

Mense wat voorskote inskryf, kan dit na afloop van die basaar aan die tehuis skenk om verkoop te word of hulle kan die voorskoot terugkry.

Die organiseerders sê diegene wat nie noodwendig goed met naaldwerk is nie, moenie dat dit hulle afskrik nie. Vra iemand anders om dit te maak, of dink ’n kreatiewe manier uit vir ’n voorskoot wat “anders” is Voornemende deelnemers kan ’n e-pos stuur aan nbt@mweb.co.za of skakel die kantoor by tel. (014) 743 0685 om inskrywingsvorms aan te vra. Inskrywings sluit op Woensdag 4 September.

Related Articles

Back to top button