Local newsNews

Modimolle-man is Mnr. Fotogenies

Hanno Eysell (22) van Modimolle wat ’n deelnemer aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie was, is trots daarop dat hy die titel as Mnr. Fotogenies losgeslaan het.

Die kroningsaand was op Saterdag 9 Junie by die elegante The Bay Hotel in Kampsbaai in Kaapstad.

Dié titel, sê Eysell, was ’n taai een. Die fotosessie waartydens die wenner in dié afdeling gekies is, is om 06:30 op ’n koue Kaapse wintersoggend in ’n swembad gehou.

“Dit was ’n storie om nie te lyk asof ek koud kry nie. Ek kon skaars geglimlag kry!” het hy gesê. “Ek was baie verras toe ek die titel wen, want ek het dit glad nie verwag nie.”

Eysell besit ’n toeragentskap, Bushveld Accommodations, en is die bestuurder van ’n lodge op ’n wildsplaas naby Groblersdal.

Dit was ’n ongelooflike ervaring om aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem, het Eysell gesê. “Die deelnemers het ’n band gevorm en mekaar gemotiveer. Ons het ook baie geleer. Hierdie boertjie weet nou hoe om voor mense te praat en hoe om asem te haal as jy jouself in ’n stresvolle situasie wil kalmeer. My selfvertroue het ’n groot hupstoot gekry danksy al die blootstelling.”

Heinrich Gabler, ’n laerskoolonderwyser wat in ’n Wellingtonse kinderhuis grootgeword het nadat sy ma dood is, is as die wenner gekroon met Shaun Stander en Bhekuzinde Nobunga as eerste en tweede prinse.

Volgens Mnr. SA se uitvoerende hoof, JP Robberts, het vanjaar se kompetisie daarop gefokus om die beste rolmodel moontlik te kies, eerder as om op voorkoms alleen te fokus.

Eysell het gesê dat hy vier projekte vir sy twee jaar termyn as Mnr. Fotogenies beplan. Twee van die projekte behoort eersdaags af te skop. “Ons wil die veiligheidsvertrekke by polisiestasies waar mishandelde vroue en kinders wag, opgradeer en seker maak dat hulle alles het wat hulle nodig het ná hul traumatiese ervarings. Ons beplan ook om fondse in te samel sodat ons aan boere in hierdie omgewing wat nie veiligheidshekke kan bekostig nie, hekke kan verskaf,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button