Local newsNews

Gemeenskap groet geliefde ‘tante Dirkje’

Sy was vir haar geliefdes ’n inspirasie en voorbeeld, ’n Koningskind met ’n hart van goud wat ’n onbeskryflike groot en positiewe impak op hul lewens gehad het.

Dirkje Daling, ’n geliefde inwoner van die Bela-Bela-omgewing, is op Dinsdag 11 Junie op bykans 99 jaar oorlede.

Sy was vir haar geliefdes ’n inspirasie en voorbeeld, ’n Koningskind met ’n hart van goud wat ’n onbeskryflike groot en positiewe impak op hul lewens gehad het.

Daling het agt kinders gehad, 27 klein-kinders, 28 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.

Sy sou op Woensdag 17 Julie verjaar het. ’n Dankdiens ter viering van haar lewe is op Vrydag 14 Junie vanuit die Gereformeerde Kerk in Bela-Bela gehou. Die diens is waargeneem deur ds. Bernard Hattingh, met die teksgedeelte (Psalm 73: 23-25) dieselfde as dié wat gebruik is op haar huweliksbevestiging met Marten Daling in Smilde, Nederland, op 17 Desember 1938.

Volgens ’n familielid is Daling net ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gebore. Sy het in die omgewing van Rotterdam in Nederland grootgeword. Sy was ’n baanbreker in haar tyd en het as 18-jarige meisie die huis verlaat en as verpleegster by ’n psigiatriese hospitaal gekwalifiseer. Dit sou jare daarna haar roeping wees om almal om haar te versorg en verpleeg.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sy een keer selfs haar man se lewe gered deur baie kalm te praat met die Duitse soldate wat by hulle huis aangeklop het op soek na hom (hy was ’n soldaat in die Nederlandse leër).

Sy en Marten het kort ná die oorlog met hul twee kleuters, Roelof en Marinus, vanuit Nederland na Suid-Afrika geëmigreer.

Hulle paaie het in 1954 met die Springbokvlakte gekruis deur ’n kontak wat die Dykemas en Groothofs bewerkstellig het met ’n Kriegler-egpaar, eienaars van die plaas, Afzet. Hulle het later die plaas Turfpan gekoop.

Deur die jare het sy “tante Dirkje”, “Tante Dick” of sommer net “Ouma Dikkie” vir haar geliefdes geword.

Sy word as ’n boervrou in murg en been onthou. Sy het onder meer deur die jare hoender-, skaap-, bees- en varkboerderye bedryf. Haar huis se deure het altyd oopgestaan vir almal.

Volgens haar familie het tante Dirkje ’n ongelooflike goeie geheue gehad en het sy nie eens ’n verjaardagkalender nodig gehad om al die verjaardae te onthou nie.

Hoofrekene was vir haar kinderspeletjies en sy het met die plaas se boekhouding gehelp tot kort voor haar 90ste verjaardag. Sy kon uitstekend naaldwerk doen en het selfs haar oudste dogter se trourok gemaak. Verder kon sy heerlik kook en haar kinders, kleinkinders en ander sal verlang na al haar heerlike geregte.

Sy was baie lief vir spreekwoorde en het dit gebruik om haar kinders te inspireer. Dié wat die familie die beste onthou, is: “Die mense kan eerder vir jou lag as wat hulle vir jou huil”, “een blije hart klopt het langst”, “’n mens kan nie alles op die weegskaal plaas nie” en “blomme van geluk moet jy self plant”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button