Local newsNews

Strate skoon ná kinderhuis projek loods

“Ons het minstens vier vragte rommel verwyder wat op verskillende plekke opgehoop en baie slordig gelyk het.”

Oud en jonk het op Woensdag 5 Junie ingespring om plastieksakke en vullis wat die strate van Modimolle ontsier, op te tel.

Dié projek is geloods om saam te val met Omgewingsdag wat wêreldwyd gevier word.

Die Abraham Kriel-kinderhuis in die dorp het die hulp van ses skole, hul eie inwoners, die Waterberg-sakekamer, AfriForum-buurtwag, die plaaslike munisipaliteit en vrywilligers ingeroep om met die reusetaak te help. Sowat 1 300 mense het twee uur lank gespook om die sypaadjies vanaf die Pick ’n Pay-sentrum in die hoofstraat tot by die munisipaliteit skoon te maak. Volgens Marlene de Villiers, bemarker van die kinderhuis, is daar sowat 48 ton vullis in dié tyd opgetel.

 

Sakeondernemings het ook bygedra deur versnaperinge, asook plastieksakke en handskoene te verskaf.

Zakes Namate, bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se afdeling vir sosiale dienste, het saam met ’n groep munisipale werkers opgedaag om met die opruimingsprojek te help.

“Ons het minstens vier vragte rommel verwyder wat op verskillende plekke opgehoop en baie slordig gelyk het,” het De Villiers gesê.

Daar is ook in en om skole in die dorp en om die kinderhuis skoongemaak. Volgens haar hou die storting van vullis ’n groot gesondheidsgevaar vir inwoners van Modimolle in.

De Villiers het gesê hulle wil met ’n herwinningsprojek by die kinderhuis begin en inwoners en instellings wat wil deelneem is welkom om by hulle in te skakel.

Hulle wil ook die munisipaliteit versoek om ’n langtermynplan op die been te bring en herwinning, met die hulp van entrepreneurs, deel van munisipale dienste maak. Op dié manier kan ’n bydrae tot werkskepping gelewer word en die projek kan dalk later deel vorm van die kinderhuis se skoolverlatersprojek.

“Die kinderhuis het omtrent 170 kinders wat deur ’n liefdevolle span mense grootgemaak en opgevoed word. Deel hiervan is om hulle binne die onmiddellike omgewing van die skool te verenig en te laat deelneem aan positiewe aktiwiteite wat hulle verskeie waardes leer,” het De Villiers gesê.

Diegene wat meer inligting verlang, kan ’n SMS met hul naam by stuur na tel. 39236 (R1,50 per SMS) of ’n e-pos na bemarker2@akknyl.co.za(.)

Related Articles

Back to top button