Local newsNews

Pos-leser wys hoeveel uiteet destyds gekos het

Mense kla gereeld dat “alles so duur geword het” — van eiendom tot motors en kos.

Marietjie Harrington, ’n afgetrede inwoner van Bela-Bela en geordende pastoor, kan daarvan getuig nadat sy onlangs op twee ou restaurantstrokies in haar huis afgekom het.

Haar oorlede man, Dennis, was ’n argitek en Harrington het modelwerk gedoen en as sekretaresse in haar man se argitekkantoor gewerk. Die egpaar het vier seuns gehad.

“My oorlede man is in 1968 getaak om die El Torro Steakhouse in die ou Castle & Lion Hotel in Bloemfontein te ontwerp. Nadat die plek voltooi was en ons daar gaan eet het, het ons totale rekening vir van die beste kos op R4,10 uitgewerk.”

Sy en Dennis het die aand behoorlik feesgevier deur garnale teen R1,90 vir albei te bestel, twee heerlike tongvisse teen R1 elk en twee koppies koffie teen 20c daarna.

 

Tydens haar laaste uiteetgeleentheid saam met Dennis in 1988 by die ou Vilamoura-restaurant in Bloemfontein, het die restaurantpryse reeds anders gelyk.

Daar het hulle vir die volle ete R152,35 betaal. Hulle het R15,90 vir twee Caldo Verde-voorgeregte (Portugese groensop), R26,45 vir twee oesterporsies, R80,85 vir drie glase wyn, R21,90 vir twee nageregte en R7,25 vir ’n Dom Pedro-roomys betaal.

Harrington het vertel dat hulle ’n goeie leefstyl kon handhaaf, want Dennis was uiters suksesvol as argitek.

Sy vertel dat sy portefeulje bekende projekte ingesluit het soos die eerste moderne skool in Bloemfontein, die eerste Wimpy in Harrismith, die eerste Hyperama in Roodepoort, die opgradering van talle hotelle en verskeie projekte vir die Mobil-petroleummaatskappy.

“Ons was in die jare sewentig op die eerste Boeing 747-vlug in die land van Johannesburg na Durban. Ons retoerkaartjies het saam R75 gekos,” het sy vertel.

“Dit was ook nie vreemd om in daardie tydperk R3 000 vir ’n Mini Minor-voertuig te betaal nie — wat steeds duur was. ’n Mens kon ook ’n mooi huis teen R14 000 aanskaf.

Die Harrington-gesin het ook ’n liefde vir wedvlugkompetisies gehad.

“’n Mens kon ’n posduifbroeipaar teen R500 aankoop, wat op daardie stadium ’n stewige prys was. Ons het selfs ’n voertuig danksy die wedvlugte gewen, maar tye en die ekonomie verander, en swaar tye het ingetree.

Haar man het sy argiteksfirma verloor weens die kwynende ekonomie en hulle moes noodgedwonge met hul vier kinders na Randburg in Johannesburg verhuis.

Dennis het van vooraf as argitek by ’n firma begin werk en sy het in die mynbedryf as persoonlike assistent gewerk.

“Ons salarisse was klein en dit was ’n gespook om die pot aan die kook te hou met twee van die seuns wat wou gaan studeer het,” het sy gesê.

Harrington het sowat vier jaar gelede na Bela-Bela verhuis. “Ek hou van eenvoudige dinge. Ek het opleiding ontvang om ’n pastoor te word en ek hou van kamp,” het sy gesê.

“Alles word steeds duurder en mense moet besef dat die dae van luukshede verby is.”

Related Articles

Back to top button