Local newsNews

Dandré terug skool toe ná motorongeluk

Dandré en die man is uit die voertuig geslinger en die vrou was in die wrak vasgekeer.

Dandré Esterhuizen (4) van Bela-Bela wat in Mei in ’n ernstige motorongeluk buite die dorp betrokke was, het op Maandag 10 Junie teruggekeer na die Nuwe Lewe Kleuterland-kleuterskool in die dorp.

Dandré is die tweede naweek in Mei in die sorg van vriende gelaat terwyl sy ma, Renette, in die Warmbad-hospitaal opgeneem is met komplikasie met haar swangerskap.

Dandré in die hospitaal kort ná die ongeluk.

 

Dandré was teen ongeveer 03:10 die Saterdagoggend in ’n motorongeluk saam met die egpaar wat die naweek na hom omgesien het. Hy en sy ma het op daardie stadium by dié egpaar gewoon.

Die ongeluk het op die R101-pad oorkant Swift Diesel plaasgevind.

Die bestuurder van die voertuig het na bewering beheer verloor en die voertuig het gerol. Die polisie het vroeër aan Die Pos gesê daar was geen ander voertuig by die ongeluk betrokke nie.
Die egpaar se name word weerhou omdat die polisie se ondersoek oor die oorval steeds aan die gang is.

Dandré en die man is uit die voertuig geslinger en die vrou was in die wrak vasgekeer.

Die man en vrou is op die toneel vir beserings behandel en in die hospitaal opgeneem. Dandré is met ernstige beserings na die Warmbad-hospitaal gehaas waar sy ma reeds ’n pasiënt was. Hy is later na die Sunshine-kliniek in Benoni oorgeplaas.

“Dandré is ná ’n week uit die hospitaal ontslaan nadat die neuroloog tevrede was met sy vordering. Hy het geen operasie nodig gehad nie,” het sy ma die afgelope week aan Die Pos gesê.

Hy het verskeie fisioterapiesessies by die hospitaal ontvang waarna hy en sy ma by Dandré se pa in Brits tuisgegaan het.

Ma en seun het onlangs na Bela-Bela teruggekeer en woon nou by ander vriende wat hul huis vir hulle oopgestel het.

Sy het gesê sy fokus nou daarop dat Dandré sy skoolwerk opvang en weer in sy roetine kom. Hy sal ook sielkundige behandeling by die kleuterskool ontvang om die skok van die ongeluk te hanteer.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

Niemand is egter aangekla nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button