Local newsNews

Vadersdag: ’n Pa se hart loop beslis ook deur sy maag

“Die meeste pa’s wil net die dag saam met hul gesinne wees en om dan nog bederf te word met gunstelinggeregte is ’n bonus.”

Vadersdag word op Sondag 16 Junie gevier en daarom het Die Pos ’n paar manne in Mookgopong genader om te hoor hoe hul gunsteling-Vadersdagete moet lyk.

Die meeste van die pa’s het ’n heerlike vleisbraai in gedagte en daarmee saam ’n lekker koue bier (al is dit winter) of ’n glasie goeie wyn. Skaaptjops was eerste op die lys, maar party het ook bygevoeg dat die prys van vet skaaptjoppies hul ete sal demp.

Johan Potgieter het aan Die Pos gesê ’n bord geurige, gekookte boerekos is vir hom die beste en as hy boonop ’n gebakte skaapboud op die bord kan kry, is dit ’n bonus.

Hoewel Jurie Müller nog nie ’n “vader” is nie, meen hy ’n lekker, sappige Eisbein wat krakerig gebak is met aartappel en suurroom sal die dag vir hom spesiaal maak.

“Die meeste pa’s wil net die dag saam met hul gesinne wees en om dan nog bederf te word met gunstelinggeregte is ’n bonus,” het een pa aan Die Pos gesê.

Die jong manspersoneel by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong verkies die tradisionele braaivleis met boerewors, kruisskyf en tjops.

Shane Swart se versoek was frikkadelle en ’n mieliepaptert en kaaskoek vir nagereg. Nog ’n pa, Jurgens Fourie, verkies twee soorte vleis, rys, aartappels en lekker gekookte groente. “Outydse boerekos soos my ma dit gekook het,” het hy gesê.

Wynand Gravett gaan glo bederf word met oondgebraaide skaapboud, gebakte aartappels, boontjies, soetwortels, rys en sous en dan word die heerlike ete afgerond met ’n affogato (semigestolde roomys). Sy vrou, Marina, maak dit nog meer spesiaal met amandelvlokkies bo-op die roomys.

Johanette Pretorius gaan vir haar man, Louis, wat die pa van drie pragtige seuns is, ’n pizza-braaibroodjie maak met al die dekadente bolae waaraan ’n mens kan dink en baie kaas. Sy voeg by dat hierdie gereg beslis nie vir mense met cholesterolprobleme is nie. Die mense wat glutenallergieë het, moet ook maar liewer iets anders kry om te eet, want steengemaalde koringmeel werk die heel beste.

Rudolf de Vos braai ’n lekker Texan-varkboudskyf of ’n Bloubul-biefstuk met groot sampioene en lekker knoffelbotter, aartappelslaai en dan maak sy vrou, Muchelle, braaibroodjies soos net sy dit kan doen.

Die manne is dit egter eens dat ’n Vadersdagete saam met die gesin baie belangriker is as dit wat op die bord bedien word.

Related Articles

Back to top button