Local newsNews

SAOU verwelkom nuwe LUR

Die SAOU hoop van harte dat Boshielo die kernrol wat onderwys in enige provinsie speel, sal respekteer en dadelik agterstallige kwessies sal aanpak.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in Limpopo sê in ’n verklaring die organisasie het met opgewondenheid en afwagting kennis geneem van die aanstelling van Shela Paulina Boshielo as nuwe LUR vir onderwys in Limpopo.

Boshielo is ’n boorling van Seshego en het al etlike posisies in die Limpopo provinsiale regering beklee. Haar mees onlangse aanstelling was as speaker van die Limpopo provinsiale kamer.

Die SAOU hoop van harte dat Boshielo die kernrol wat onderwys in enige provinsie speel, sal respekteer en dadelik agterstallige kwessies sal aanpak.

Die volgende dringende sake moet volgens SAOU dadelik aandag kry:

  • Die verantwoordelike bestuur van die Limpopo-onderwysbegroting, veral gesien in die lig daarvan dat vorige begrotings reeds lank voor die einde van die boekjaar uitgeput was.
  • Die beskikbaarstelling van posvoorsieningskale wat skole reeds teen die einde van September elke jaar moet bereik sodat hulle hul eie begrotingsbeplanning vir die volgende jaar kan doen.
  • Die spoedige vul en dienooreenkomstige befondsing van ondersteunings-, ad hoc- en waarnemingsposte. Hierdie moet geskied voordat die betrokke jaar of kwartaal begin.
  • Die onmiddellike publisering van agterstallige vakaturelyste wat jaarliks moet verskyn om suksesvolle skoolbestuur moontlik te maak.
  • Beginselvastheid met betrekking tot enige politieke inmengery in onderwyssake.
  • Daadwerklike pogings om onderwys in Limpopo weer te hervestig as ’n trotse beroep.

Ander provinsies lok volgens SAOU Limpopo se onderwysers weg met bevorderingsposte danksy hul vakaturelyste wat gereeld verskyn en beloftes van werksekerheid.

“Ons topleer-ders word beurse aangebied om hul by stadskole in Gauteng in te skryf. Dit is van die allergrootste belang om hierdie gehaltemense in Limpopo te behou deur die aanloklikheid van onderwys in Limpopo aansienlik te verhoog,” lui die verklaring.

Die SAOU onderneem in die verklaring om as “besorgde onderwysvakbond” ’n hand van samewerking en kundigheid na Boshielo te reik.

Related Articles

Back to top button