Local newsNews

Kom help dorp se strate opruim

“Ons nooi die gemeenskap om saam met ons moue op te rol en die dorp op te ruim.”

Die Abraham Kriel-kinderhuis (AKK) in Modimolle beplan ’n groot rommel-opteldag op Woensdag 5 Junie.

Dit is ook op dié dag Wêreldomgewingsdag.

Volgens Marlene de Villiers, die kinderhuis se bemarker, sal ’n bekende radiostasie die dag se vordering uitsaai en terselfdertyd geld insamel vir die AKK. Die kind wat die meeste rommel insamel, wen ’n kontantprys.

“Ons nooi die gemeenskap om saam met ons moue op te rol en die dorp op te ruim. Ons wil graag ons kinders ’n kultuur aanleer waar ons skoonmaak pleks van mors,” het sy gesê.

’n Onderneming het reeds 2 000 plastieksakke geskenk. “Ons sal plastieksakke en handskoene verskaf aan al die mense wat help opruim,” het sy gesê.

Die gebiede om die skole waar Abraham Kriel se inwoners skoolgaan, sal skoongemaak word, soos Laerskool Eenheid, Laerskool Nylstroom, Lekkerbreek en Wegbreek Primary School, Solomon Mhlangu High School en Susan Strijdomskool. Die vullis sal na herwinningspunte geneem word.

“Ons glo die gemeenskap moet eienaarskap neem van die dorp se uitdagings en self werk om ’n skoon omgewing te bewerkstellig,” het sy gesê.

Kinderbeskermingsweek val in dieselfde tyd en bewusmaking sal ook daaroor gedoen word.

De Villiers het lesers gevra om die kinderhuis se Facebook-blad dop te hou vir die nuutste reëlings.

Vrywilligers wat saam wil skoonmaak, kan om 08:00 by Pick ‘n Pay se agterste parkeerarea bymekaarkom.

Vir meer inligting, bel De Villiers by tel. 065 891 6616.

Related Articles

Back to top button