Local newsNews

Jong rugbyster sterf in ongeluk

“Hy was ’n yster in sport, het mense se lewens verander, het altyd opgestaan vir wat reg was en het ’n mooi hart gehad. Ek dink uiteindelik die Here het hom meer nodig gehad.”

Die Nylstroom-rugbyklub is die afgelope naweek geruk deur die dood van een van hul belowende spelers, Gerrit Viljoen (19), wat in ’n motorongeluk gesterf het.

Volgens sy pa, André, het sy seun iewers tussen Saterdag en Sondag (25-26 Mei) sy Renault-voertuig op die teerpad tussen Modimolle en Settlers gerol. Twee vriende, wat passasiers in die voertuig was, het feitlik ongedeerd met slegs ligte beserings en skrape, uit die voertuig geklim.

Gerrit is blykbaar deur die windskerm geslinger toe die voertuig gerol het. Hy is op die toneel dood, het sy pa gesê.

Volgens André is hy ongeveer 02:00 Sondagoggend in kennis gestel dat sy seun in ’n motorongeluk betrokke was.

“Gerrit is nou waar hy moet wees. Ek weet nie wat om oor die voorval te sê nie, want hy het nog altyd veilig bestuur.”

Gerrit se ma, Sylvia, is drie jaar gelede aan kanker oorlede. Die gesin was oorspronklik van Boksburg en het sowat drie jaar gelede na Bela-Bela verhuis. André het geboer en Gerrit het sy skoolopleiding aan Hoërskool Warmbad voltooi, waarna die gesin na Modimolle verhuis het.

Gerrit het daar betrokke geraak by die boerdery en by die rugbyklub in Modimolle ingeskakel.

Jannie Venter, Nylstroom-rugbyklubpresident en afrigter, het aan Die Pos gesê dit is vir die span hartseer om ’n jong, belowende speler op so ’n manier te verloor.

“Ons gaan hom baie mis — ’n jong man wat in die fleur van sy lewe was. Hy was ook deel van die span toe ons vroeër geseëvier het tydens die Grizzlies-rugbytoernooi,” het Venter gesê.

André sê hy was baie trots op die seun wat hy grootgemaak het. “Hy was ’n yster in sport, het mense se lewens verander, het altyd opgestaan vir wat reg was en het ’n mooi hart gehad. Ek dink uiteindelik die Here het hom meer nodig gehad.”

Die polisieondersoek na die ongeluk duur voort.

Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings nie.

Related Articles

Back to top button