Local newsNews

Nóg ’n bejaarde op Modimolle-sypaadjie beseer

“My knieskyf is op drie plekke gebreek en ’n been in my regterarm is ook gebreek.”

Nóg ’n bejaarde vrou wat been- en armbreuke opgedoen het nadat sy glo op ’n sypaadjie in Modimolle geval het, blameer die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit dat hulle nie instandhoudingswerk doen nie.

Lena van Aarde (81) is inderhaas per ambulans hospitaal toe geneem nadat sy op Donderdag 2 Mei geval het. Sy het glo van Ackermans na Pep Stores in die hoofstraat gestap toe die voorval gebeur het.

“My knieskyf is op drie plekke gebreek en ’n been in my regterarm is ook gebreek. Ek moes steke op my neus kry nadat ek met my voorkop op die pad geval het,” het sy telefonies aan Die Pos gesê.

Die Pos het verlede week berig oor die afgetrede Dolla Searle wat ook beseer is nadat sy glo in ’n gat sonder ’n deksel op ’n sypaadjie naby Capitec in die hoofstraat getrap het. Met Die Pos se besoek was die sypaadjies baie bedrywig met voetgangers en stalletjie-eienaars wat hul ware daar uitstal.

Van Aarde, wat tuis aansterk, het gesê haar mediese koste sal na raming meer as R300 000 beloop.

“Ek is baie omgekrap en lus om die munisipaliteit te dagvaar,” het sy gesê. “As hulle hul geld aanwend waar dit bestee behoort te word, sal die sypaadjies nie in so ’n toestand wees nie.”

Sy het nog nie ’n klag by die munisipaliteit ingedien nie.

Volgens Patrick Shika, munisipale woordvoerder, sal ’n deeglike ondersoek gedoen word hoe die twee vroue se beserings veroorsaak is. “Ons moet kyk of die mangat een van ons s’n is en of dit aan ander entiteite soos Telkom behoort,” het hy gesê.

“Ons versoek die inwoners om formele briewe aan die munisipaliteit te rig sodat ons daaraan aandag kan gee en die saak met hulle kan bespreek. Ons verstaan dat dit tans moeilik vir vir die een vrou (Van Aarde) om die munisipaliteit te besoek, maar versoek ’n formele brief wat selfs ’n familielid kan aflewer sodat ons die saak kan hanteer,” het hy gesê.

Shika het gesê ander klagtes kan aangemeld word by die kliëntedienseenheid langs die kassiere. Klagtes word met die hand geregistreer en opgevolg deur die kliëntediensbeampte.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button