Local newsNews

Kleuter sterk aan ná ongeluk buite Bela-Bela

’n Swanger ma van Bela-Bela het haarself op Saterdagoggend 11 Mei uit die Warmbad-hospitaal ontslaan nadat sy die nuus ontvang het dat haar 4-jarige seun in ’n motorongeluk betrokke was.

Renette Esterhuizen, wat sewe maande swanger is, het in die hospitaal beland nadat daar komplikasies met haar swangerskap ontstaan het. Sy verwag ’n seuntjie, het sy aan Die Pos gesê.

Sy moes haar kleuter, Dandré (4), in vriende se sorg laat toe sy hospitaal toe moes gaan. Dandré is ’n leerder aan die Nuwe Lewe Kinderland-kleuterskool in Bela-Bela.

Klein Dandré Esterhuizen (4) van Bela-Bela het kopbeserings opgedoen in ’n motorongeluk waarin hy saam met vriende van sy ma, Renette Esterhuizen, was. Op die foto is Dandré voor die ongeluk.

 

Die vriende by wie Esterhuizen en haar seun in die Sondela-omgewing woon, het klaarblyklik Saterdag ’n braai in die Eersbewoond-omgewing bygewoon en Dandré, wat in hul sorg gelaat is, was saam. Hul name word op regsadvies weerhou omdat daar ’n polisieondersoek ná die ongeluk aan die gang is.

Die vriende het glo in die vroeë oggendure teruggekeer huis toe en die bestuurder van die Volkswagen Jetta het volgens die polisie naby Swift Diesel op die R101-pad beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.

Andy Gill van APA-ambulansdienste het by navraag gesê Dandré is met die slag uit die voertuig geslinger en het beserings aan sy kop opgedoen.Hy is deur die provinsiale paramedici na die Warmbad-hospitaal gehaas waar sy ma, sonder dat sy van die ongeluk geweet het, was.

“Die vrou (Esterhuizen se vriendin) was met ons aankoms steeds in die voertuig vasgekeer. Sy het gekla van laerugpyn en pyn in haar arm,” het Gill gesê “Die man is deur die provinsiale paramedici behandel, maar ons weet nie wat die omvang van sy beserings was nie.”

Die nooddienste moes lewensreddende toerusting gebruik om die vrou uit die wrak te bevry. Sy is ook daarna na die Warmbad-hospitaal geneem, het Gill gesê.

Esterhuizen is kort ná sesuur die oggend ingelig dat haar seun in ’n ongeluk betrokke was.

“Ek het myself ontslaan en my na sy hospitaalkamer gehaas, maar toe ek hom sien, het ek besluit dat hy dadelik na ’n ander hospitaal oorgeplaas moet word,” het sy gesê.

Volgens haar het Dandré erge swelling aan sy kop gehad.

Sy was dankbaar dat haar eksman, Dandré se biologiese pa, reëlings getref het dat Dandré deur APA na die Sunshine-hospitaal in Benoni oorgeplaas kon word.

Volgens haar het die dokters ná deeglike ondersoeke bevind dat die seuntjie geen bloeding of frakture opgedoen het nie. Hy sal waarskynlik ook geen blywende skade van die ongeluk oorhou nie.

“Dankie aan almal wat saam gewaak en gebid het,” het sy gesê. “Ek is só bly dat my seun leef, maar daar lê ’n lang pad van genesing voor.”

Esterhuizen sê sy probeer te midde van dié krisis kalm bly en in die beste belang van haar ongebore seun, Luandré, optree.

  • Die Bela-Bela-polisie het aan Die Pos bevestig dat ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button