Local newsNews

Vrou sterf ná R101-ongeluk

Sy is op slag dood in die botsing. Die silwerkleurige Matiz waarin Stols gery het, is ’n algehele wrak.

Die gevreesde R101-pad tussen Mookgophong en Mokopane het op Sondagaand 5 Mei nóg ’n kosbare lewe geëis.

Louisa Stols (48) van Mookgophong het om ongeveer 18:00 van Mokopane af gekom toe sy in ’n motorongeluk betrokke was en gesterf het. Sy het saam met haar seun, Henry Stols en sy gesin, wat in Mokopane woon, by haar suster in Lephalale gekuier vir die naweek.

Volgens haar dogter, Adri Stols, was haar ma van Mokopane af op pad terug huis toe. Voorlopige ondersoeke toon dat ’n ander voertuig moontlik teen ’n vlakvark gebots en Stols toe uitgeswaai het vir dié voertuig, waarna sy teen ’n aankomende voertuig gebots het.

Sy is op slag dood in die botsing. Die silwerkleurige Matiz waarin Stols gery het, is ’n algehele wrak.

Stols het die afgelope tien jaar vir Waltkon in Mookgophong gewerk en is bekend in die gemeenskap.

Volgens AO George Ledwaba van die polisie in Mookgophong ondersoek die polisie die oorsaak van die ongeluk.

Sy word oorleef deur haar man, Gert Stols, en drie kinders. Sy is op Donderdag 9 Mei vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in die dorp begrawe.

Die familie het versoek dat geen foto van die botsing geplaas word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button