Local newsNews

Gewilde sportman (30) van Bela-Bela sterf in motorongeluk

Bela-Bela se skool- en sportgemeenskap is in rou gedompel nadat Morné Odendaal (30), bekende sportafrigter en skeidsregter, op Dinsdagaand 30 April in ’n motorongeluk gesterf het.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die ongeluk ongeveer 21:30 plaasgevind. Odendaal, wat alleen in die voertuig was, het op die hoek van Rooiberg-weg en Swanepoelstraat, naby die afdraai na Hoërskool Warmbad, met sy Volkswagen Polo in ’n boom vasgery, het Maponya gesê.

Andy Gill van APA Ambulansdienste het by navraag gesê paramedici is na die toneel ontbied, maar Odendaal was met hul aankoms reeds dood.

Hy is met erge kop- en borsbeserings op die toneel aangetref.

Huldeblyke stroom in ná Odendaal se dood.

Arno du Pisanie, vriend van Odendaal, het gesê hulle het ’n lang pad saam geloop, veral op die rugbyveld — voor en ná wedstryde — waar hulle albei as skeidsregters opgetree het.

“Hy was ’n inspirasie en die toonbeeld van bereidwilligheid en diensbaarheid. Ons gaan hom baie mis,” het Du Pisanie gesê.

Mark Stavrakis, wat saam met Odendaal by die plaaslike Limpopo Strikers-krieketspan betrokke was, het gesê Odendaal se prestasies was indrukwekkend. Hy was op 25 die jongste kaptein wat dié span nog opgelewer het.

“Bela-Bela het ‘n gunstelingseun verloor. Ons is nie armer as gevolg daarvan nie, maar ryker danksy dit wat hy vir ons almal agterlaat,” het Stavrakis gesê.

Odendaal het destyds saam met sy gesin van Johannesburg na Bela-Bela verhuis waarna hy en sy broer, Gerhard, hul skoolloopbane by Laerskool en Hoërskool Warmbad voltooi het.

Morné het ná skool vir die Avis-voertuigonderneming gewerk en later by Eskom aangesluit. Gerhard het gesê sy broer het die afgelope sewe jaar vir dié kragreus gewerk. Hy het as gekwalifiseerde lyntegnikus in die Rust de Winter- en Mantsole-omgewings gewerk.

Morné se oop hart en hand vir mense sal onthou word. Talle leerders kan getuig van die welwillendheid van dié afrigter. Hy het vroeër vanjaar ’n fondsinsameling vir Stefani van Schalkwyk (4) van Bela-Bela georganiseer en duisende rande is tydens die krieketbyeenkoms ingesamel. Stefani is ná haar geboorte met Congenital Disorder of Glycosylation (GDG) Type IC gediagnoseer.

“Hy het ’n krokodilvel op die rugbyveld gehad, maar hy was altyd vriendelik, het nooit sleg van iemand gepraat nie, was nederig en het altyd ekstra moeite vir ander gedoen,” het Gerhard gesê.

Morné het destyds by die Limpopo Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) as skeidsregter gekwalifiseer. Hy het ook lank saam met Gerhard krieketspanne van Hoërskool Warm-bad afgerig.

Die twee broers se ervaring in krieket het daartoe gelei dat die Verre Noord Bokkieweek se o.19-krieketspan, waarvan hulle die afrigters was, in 2018 vir die eerste keer as wenners van dié reeks uitgetree het. Morné is kort daarna gekies om as afrigter saam met ’n span na Sri-Lanka te toer.

“Hy het altyd gesê as hy nie gebry het nie, sou hy ’n sportkommentator geword het. Sy uitgebreide kennis van krieket en die geskiedenis van krieket was verstommend,” het Gerhard gesê.

Morné se roudiens vind op Vrydag 10 Mei om 11:00 vanuit die NG-Wes Kerk in Gilfillanstraat plaas.

Hy laat sy ouers, Alice en Faan, broer Gerhard, skoonsuster Bronwyn, asook sy meisie, Mariza Truter, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button