Local newsNews

DA verwag ‘ingewikkelde’ veranderings ná stemdag

Ramaphosa word gebruik om meer stemme te werf, maar dit is moontlik dat daar pogings sal wees om hom te onttroon en Mabuza as president aan te stel, met Julius Malema van die EFF as sy adjunk.

Politieke partye het in die laaste weke voor die nasionale verkiesing op Woensdag 8 Mei hul groot kanonne en beste beloftes uitgehaal om stemme te werf.

Bela-Bela-inwoners het op Dinsdag 30 April besoek van James Selfe, LP en die DA se federale ondervoorsitter, Glynnis Breytenbach, skadu-minister van justisie en korrektiewe dienste, Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier en premierskandidaat, asook Lindy Wilson, die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, ontvang.

Oudraadslid en Bela-Bela-inwoner Kobus van der Merwe het die groep vanuit die Kaap vergesel.

John Steenhuizen, hoofsweep van die party, sou inwoners die oggend by Forever Resorts Warmbaths toegespreek het, maar Selfe het vir hom ingestaan en die party verteenwoordig.

“Ons verwag ’n besliste verandering in regering na afloop van die verkiesing,” het Selfe gesê. Hy het gesê dié verandering sal egter “ingewikkeld” wees.

“Die ANC is in twee geskeur: die faksie onder pres. Cyril Ramaphosa wat die huidige grondwet aanhang en die ‘korrupte’ faksie onder David Mabuza, adjunkpresident. Mense moet besef dat Ramaphosa nie werklik in beheer van die regerende party is nie, maar dat die sogenaamde premiersliga, wat Mabuza en Ace Magashule, kontroversiële oudpremier van die Vrystaat insluit, die ANC en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) agter die skerms bestuur,” het Selfe gesê.

“Ramaphosa word gebruik om meer stemme te werf, maar dit is moontlik dat daar pogings sal wees om hom te onttroon en Mabuza as president aan te stel, met Julius Malema van die EFF as sy adjunk. Juis daarom is dit belangrik om Ramaphosa te oortuig om gebruik te maak van die sterker opposisie, pleks daarvan om van die premiersliga se goeie guns afhanklik te wees.”

Grondonteiening sonder vergoeding is volgens Selfe iets wat nie die ANC óf EFF reg kan deurvoer nie. Die huidige beleide oor buitelandse beleggers wat in die land wil belê, skep te veel onsekerheid. Die beleid wat aan beleggers voorgehou word en die radikale verandering wat beplan word, verskil hemelsbreed, het hy gesê.

Smalle het gesê nie-stemmers moet herbesin. “Die wegbly-aksie het onder meer in Nelson Mandelabaai daartoe gelei dat Athol Trollip sy burgemeesterskap kwyt is. Op provinsiale vlak benodig ’n party 28 000 tot 32 000 stemme om net ’n plek in die provinsiale wetgewer te kry,” het hy gesê.

Selfe het gesê hoewel sekere partye se saamtrekke indrukwekkend voorkom, is ’n groot meerderheid van die teenwoordiges nie geregistreerde kiesers nie. Altesame 26 736 710 kiesers is volgens die syfers van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer vir die nasionale verkiesing, het hy gesê. (Suid-Afrika se bevolking is met die laaste sensusopname in 2017 op 56,72 miljoen geraam).

“Kiesers moet verstaan dat hulle vir ’n party en nie vir ’n persoon stem nie,” het Selfe gesê.

Hy het melding gemaak daarvan dat plaaslike munisipaliteite gereeld diensleweringsprobleme ondervind, maar dat sekere munisipaliteite beter as ander vaar omdat hulle deur verskillende partye bestuur word. ’n Ander doring in die vlees is die aanstelling van mense in gespesialiseerde poste op grond van hul politieke oortuigings. Dit bring mee dat onkunde aan die orde van die dag is.

“Indien die ANC steeds in beheer bly, sal infrastruktuur aanhou agteruitgaan en geld vir belangrike projekte aanhou verdwyn.”

Breytenbach het gesê sodra die verantwoordelike mense wat moet toesien dat betrokkenes by staatskaping en korrupsie uiteindelik in hegtenis geneem en gevonnis word, kan ’n ander kultuur in die land geskep word.

“Ons sal waarskynlik binne ’n jaar van nou af ’n verskil sien met Shamila Batohi as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Maar die NVG kort beslis hulp,” het Breytenbach gesê.

Related Articles

Back to top button