Local newsNews

Verbruikers wil hê rakke moet kreun, maar boere kry swaar

Terwyl verbruikers aandring op beter pryse en gehalte, dra boere steeds die risiko.

Al ry sake in Suid-Afrika wipplank in aanloop tot die nasionale verkiesing aanstaande week, is daar een konstante behoefte: almal moet eet.

Boere berei tans hul lande vir die wintertydperk voor vir latere aanplantings en ander om die grond te laat rus vir die komende groeiseisoen. Winkelrakke bly egter kreun onder landbouprodukte.

Henk van de Graaf, voorsitter van die Waterberg Distrikslandbou-unie (WDLU) en voorsitter van die Transvaalse Landbou-unie se noordstreek (TLU), het by navraag aan Die Pos gesê besproeiingsboere het die afgelope tyd goeie oeste gehad terwyl boere met droëlande, waarop byvoorbeeld sonneblomme verbou is, aan die uitermatige temperature onderhewig was.

Mielie- en katoenboere is volgens hom veral swaar getref weens die droogte, asook die kommandowurmplaag in 2018. Vanjaar se goeie, laat reënseisoen het boere weer bemoedig.

“Varsprodukteprodusente wat tamaties, kool, brokkoli, patats en pampoen verbou het, het goeie pryse gehaal. Uitvoere was egter wisselvallig omdat ons geldeenheid so ’n swak wisselkoers het,” het hy gesê. “Dit is vir boere die moeite werd om uit te voer, want hulle moet die mark betree wat die beste voordeel bied. Dit het tot gevolg dat die hoëgehalte produkte nie altyd op die plaaslike markte aangebied word nie.”

Pieter van Heerden, eienaar van Food Farmers Market in Bela-Bela, wat al jare lank sy produkte by die bekende Pretoria Mark aankoop, het gesê die meeste produkte kan reg deur die jaar teen ’n goeie prys verkoop word. Sterk mededinging, hoë ondernemingsonkoste en min plaaslike verskaffers kan ’n onderneming soos dié hard tref.

“Ons bied goeie produkte teen ’n redelike prys aan kliënte. Die winsgrense is in die meeste gevalle skraal, want die voedselbedryf is uiters mededingend,” het hy gesê.

“Verbruikers kyk uit vir winskopies en koop gewoonlik dáár waar dit vir hulle gerieflik is, maar is nie altyd gewillig om pryse met ander ondernemings te vergelyk nie. Ek dink waarna mense meestal soek, is gehalte.”

In aanloop tot die winter het die winkelpryse van brokkoli, blomkool, kool, spinasie en blaarslaai gesak. Lemoene en nartjies se pryse het ook verminder, het Van Heerden gesê.

“Tamatiepryse sal na verwagting styg omdat dit nie meer in seisoen is nie. Groenrissieprodukte en bone is dwarsdeur die jaar teen billike pryse beskikbaar,” het hy gesê.

“Dit sou ideaal wees as meer plaaslike boere hul produkte in grootmaat kon lewer. Dit sou talle onkostes verminder en meer voordele vir die onderneming en die verbruiker inhou,” het Van Heerden gesê.

Terwyl verbruikers aandring op beter pryse en gehalte, dra boere steeds die risiko.

“As brandstofpryse en minimumlone styg, styg die pryse,” het Van de Graaf gesê.

“Daar is egter steeds plek vir tussengangers, agente en informele verkopers wat ’n vryemarkstelsel onder-steun. Die regering se swak arbeidswetgewing kan boere ongelukkig dwing om af te skaal wat produksie betref en dit sal voedselsekerheid beïnvloed,” het hy gesê.

Hyman Cohen, voormalige WDLU-voorsitter en boer, het by navraag gesê selfs die bykomende veiligheidskoste raak boere baie erg.

“Krag, brandstof, arbeid, die maak van brandbane en om misdadigers uit te hou, kan boere ekonomies onderkry,” het hy gesê. “Die oomblik wanneer boere saamstaan om misdaad te bestry, verloor hulle ’n hele dag se werk en moet daardie verlies aan tyd elders opgemaak word.”

Volgens hom moet boere diversifiseer net om te oorleef.

“Die meeste boere is bekommerd daaroor of hulle teen daglig steeds ’n plaas gaan hê weens die regering se beoogde grondonteieningsplan.”

“Almal moet eet, maar die ekonomie trek swaar. Sou die regering verdere druk op boere plaas, kan minder plaaswerkers aangestel word of van hulle hul werk verloor. Dit sal lei tot verhoogde pryse en verbruikers wat kies om sekere produkte te vermy weens hoë winkelpryse,” het hy gesê.

Hy het voorts gesê hy weet van talle boere wat dit oorweeg om te verhuis na plekke soos Australië weens die onsekerheid in Suid-Afrika.

Die TLU beoog intussen ’n nuwe raamwerk om boere aan te moedig om hul produkte onder mekaar te verkoop. ’n Groot behoefte is om in ’n koöperatiewe verband te boer, het Van de Graaf gesê.

Related Articles

Back to top button