Local newsNews

Politieke leiers grom vir mekaar

Die kwik tussen politieke partye styg hoe nader die nasionale verkiesing van Woensdag 8 Mei kom.

RSG-omroeper Izak du Plessis was op Woensdag 24 April die debatleier tydens ’n regstreekse uitsending uit die Modimolle-stadsaal. Saam met hom was politieke swaargewigte Jacques Smalle, provinsiale leier van die DA, Rob Tooley, LUR van die provinsiale tesourie, Marcel Maritz, provinsiale leier van die VF Plus, en Leonie Louw van die ACDP.

Veral die DA en VF Plus het koppe gestamp.

Sowat 50 mense het die debat bygewoon.

Du Plessis het gesê daar was in 2018 altesame 432 plaasaanvalle in die provinsie met 54 moorde. Maritz het geantwoord dat polisielede op meriete aangestel moet word eerder as op grond van kleur of die kaderstelsel. Korrupsie moet beveg word. Sy het die DA daarvan beskuldig dat hulle nie ondersteuning vir boere op plase bied nie.

Tooley het geantwoord dat dit oor moord in die algemeen gaan, of dit nou op ’n plaas of in ’n township is. “Ons wil hê landbou moet groei en moet daarom seker maak boere is veilig.”
Smalle het gesê om dienslewering deur die polisie te verbeter, moet daar vir meer hulpbronne soos voertuie en personeel gevra word. Hy het gesê dat die DA in verskeie komitees, waarop die VF Plus nie verteenwoordiging het nie, juis daarvoor veg.

Louw het op haar beurt gesê sy voel dat die kommandostelsel weer ingestel moet word omdat dit doeltreffend was. “Ons kan nie agterna optree nie, maar moet proaktief wees.”

Oor grondonteiening het Tooley gesê grond wat bewerk word, sal volgens pres. Cyril Ramaphosa nie afgeneem word nie. Hy het gesê daar is ’n groot aanvraag na grond langs stedelike gebiede. Du Plessis het hom gevra wat gedoen moet word omtrent die stuk grond tussen Modimolle en Mookgophong waarop plakkers hulself tuisgemaak het. Tooley het geantwoord dat daar beslis teen hulle opgetree moet word.

Smalle se reaksie was dat daar ’n groot behoefte by duisende is aan blyplek naby hul werksplekke. Mense bestee tot ’n derde van hul salarisse aan vervoerkoste. Daar moet egter vergoeding wees as grond onteien word. Titelaktes moet aan die mense gegee word.

Maritz het daarteen te velde getrek dat die DA nalaat om te noem dat hulle in beheer van Modimolle-Mookgophong is danksy die steun van die VF Plus.

Louw het gesê dat grondverdeling op regverdige wyse gedoen moet word sonder dat politici en ander onregmatig voordeel daaruit trek. Daar moet opgetree word teen onwettige grondgrype.

“Grond in besit van die regering moet aangewend word in belang van die mense.”

“Wie se skuld is dit dat die munisipaliteit in so ’n penarie is?” het Du Plessis aan Tooley gevra.

Tooley het erken dat sy party deel van die probleem is. Dit het groot reaksie vanuit die gehoor gelok. Tooley het benadruk dat hulle probleme hanteer.

Louw het na Mookgophong as die “vergete dorp” verwys en gesê daar is mense wat reeds drie weke lank sonder water is. “Daar word voorwaardelike toedelings gemaak om die probleme aan te pak, maar geld word nie reg aangewend nie.”

Maritz het aan Tooley gesê dat belastingbetalers swaarkry en dat minderheidsgroepe steeds die meeste belasting betaal.

Johann Abrie, DA-raadslid en plaaslike boer, het aan Tooley gevra hoekom dit so lank geneem het om die bedrog by VBS Bank stop te sit en waarom Vhembe-burgemeester Florence Radzilani, wat geïmpliseer is, so hoog op die ANC-kieslyste geplaas is.

Tooley het gesê hy gee toe dat mense wat by diefstal betrokke is, nie kandidate kan wees nie. Die ANC se integriteitskomitee sal moontlik ná die verkiesing in dié verband optree, het hy gesê.

Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, het gevra hoe die samesmelting tussen Mookgophong en Modimolle dienslewering verbeter het. Tooley het gesê dat hy dit met die burgemeester bespreek het. Volgens hom is die samesmelting gedoen om meer ekonomies sin te maak, maar die proses is glo nie goed bestuur nie.

Smalle het gesê daar moet weer na die befondsingsmodel gekyk word omdat daar nie genoeg geld ná die samesmelting ontvang is nie. Volgens Louw wys statistieke dat 17% van Limpopo se inwoners vir dienste kan betaal.

“Dis is ’n armoedeprobleem wat opgelos moet word. Ons kan daarom nie bekostig dat geld gesteel word nie.”

Related Articles

Back to top button