Local newsNews

Grondgrypers glo doenig naby Buyskop

Inwoners van Buyskop buite Bela-Bela het op Woensdag 17 April een oomblik nog gewonder waar die skielike rookreuk vandaan kom, toe hulle besef onwettige besetters is besig om grond reg op hul voorstoepe te beset.

Die Buyskop-koppie en die Bela-Bela-township is baie na aan mekaar geleë. Daar is slegs ’n groot stuk veld met lang gras, wat in privaat besit is, wat dié twee van mekaar skei.

Anton Botes, eienaar van Buyskop Melkery, het by navraag gesê die besetters het ongeveer 100 erwe vir hulself toegeïen. Die besetters is blykbaar onder die wanindruk dat dit regeringsgrond is, het hy gesê. Sinkhuiswonings is sedert verlede week stelselmatig opgerig.

Lt. kol. Abel Phetla, waarnemende stasie-bevelvoerder van die Bela-Bela-polisie, het egter gesê die grond waarop geplak word, behoort aan ene Herman Kwadi, wat daartoe gelei het dat ’n klag van betreding by die polisie geopen is.

Botes het gesê daar is geen toegang vanaf die R101-pad na dié stuk grond nie. Dit kan slegs via die township bereik word. Botes sê dit is vir hom opvallend dat die township al hoe nader aan die berggebied beweeg.

“Dit is senutergend, maar ons is nie tans bekommerd nie. Ons is baie besorg oor die feit dat die besetters hierdie erwe skoonbrand, wat ’n enorme brandgevaar vir die wettige eienaars en hul vee inhou,” het hy gesê.

Volgens hom is daar geen munisipale infrastruktuur op die grond waar die plakkers tans is nie.

Hy het ook gesê dat die vlakte waar die huise opgerig is, in gevaar is as daar vloedreën sou val.

“Ons grootste probleem is mense wat op ons eiendom hout steel en dat ons heinings beskadig word. Ek moet gereeld werkers uitstuur om die gate in die heining te herstel,” het Botes gesê. “Maar ons plaas is produktief en ek sal nie weghardloop nie, al sou daar meer grondgrype plaasvind.”

Nadat Kwadi die klag van betreding gelê het, het die polisie hom aangeraai om so gou moontlik ’n hofinterdik te bekom, het Phetla gesê.

“Ons verneem dat die besetters steeds op sy grond is, maar dit is nie die polisie se werk om hulle te verwyder nie,” het Phetla gesê. “Ons bepaal nog wie die verantwoordelike persoon is wat die grondgrypaksie aangevoer het, maar ons is seker dat dit polities gemotiveerd is.”

Die saak word verder ondersoek.

Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder gevra of die munisipaliteit bewus is van die voorval, maar hy het teen druktyd nie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button