Local newsNews

Bela-Bela-polisie ry met Jan Tuinsbly se karretjie

Die Bela-Bela-polisiestasie is effens in die knyp met twee ampsvoertuie wat binne ’n week beskadig is.

Die polisie se wit Toyota Hilux is op Dinsdagaand 16 April erg beskadig nadat beamptes op die R516-pad na Settlers ’n rondloperbees getref het.

Die ander ampsvoertuig moes op Saterdag 13 April ingesleep word nadat ’n voertuig op die N1-snelweg teen die agterkant van die bakkie gebots het, het sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, by navraag gesê. Die beamptes het in albei ongelukke ongedeerd daarvan afgekom.

Die plaaslike speurtak het intussen voertuie beskikbaar gestel sodat dienslewering nie belemmer word nie. Die voertuie wat beskadig is, is gebruik om uit te ry na misdaadtonele, het Maponya gesê.

Die Pos skryf al jare lank oor rondlopervee wat motorongelukke veroorsaak, maar dié keer was die polisie self aan die ontvangkant van dié probleem. “Ons sukkel om probleemdiere se eienaars op te spoor indien die diere nie gebrandmerk is nie,” het Maponya gesê. In hierdie geval was die dier ook nie gemerk nie en die polisie kon tot dusver nie die eienaar opspoor nie.

Maponya het ’n beroep op inwoners gedoen om dit onverwyld by die polisie aan te meld wanneer hulle rondloperdiere naby openbare paaie opmerk. Hy het gesê klagtes kan gelê word en die diere sal hopelik geskut kan word.

“Vee-eienaars in die omgewing moet verantwoordelikheid neem vir hul diere, want hulle gaan moet opdok om die diere terug te kry indien die diere geskut word. Die naaste skuts is in Murrayhill buite Pretoria en in Mokopane. Vee-eienaars stel ander mense se lewens in gevaar as hulle nie na hulle diere omsien nie en kan in groot moeilikheid beland indien hulle nalatig is,” het Maponya gesê.

Hy het voorts gesê dat vee-eienaars deur die departement van landbou aansoek moet doen vir unieke brandmerke.

* Die Bela-Bela-munisipaliteit het tydens die laaste plaaslike veiligheidsvergadering by die polisiestasie bekendgemaak dat hulle ’n skut in Bela-Bela wil vestig. Planne om dit te doen, word steeds bespreek.

Related Articles

Back to top button