Local newsNews

Bakwena beoog permanente versperring op N1

Die Paasnaweek het op ’n vrolike noot afgeskop nadat ’n video van ’n verkeersbeampte wat ’n Paasbolletjie (hot cross bun) geëet en positief getoets is vir hoë alkoholvlakke, op sosiale media die ronde gedoen het.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), was vinnig om te reageer en het gesê dat niemand in hegtenis geneem sal word bloot omdat hulle ’n Paasbolletjie geniet het nie.

Die sogenaamde blaastoetse is daar om te bepaal of motorryers alkohol gebruik het, maar dié toets kan nie as bewys in ’n hof dien nie.

Daarvoor moet motorryers vir ’n bloedtoets verwys word om die alkoholvlak in die bloedstroom te bepaal, het hy gesê.

Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, het op Dinsdag 23 April bekend gemaak dat die pad-sterftesyfers die afgelope Paasnaweek met 41% gedaal het teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Hy skryf die daling toe aan die goeie werk van die betrokke beamptes wat die paaie veilig gehou het.

Tog het die naweek sleg begin.



Altesame 10 mense is dood toe die bestuurder van ’n Toyota-minibus in die vroeë oggendure van Donderdag 18 April op die N1-snelweg tussen Modimolle en Mookgophong beheer oor sy voertuig verloor en met ’n MAN-trok gebots het. Slegs twee mense het die ongeluk oorleef.

Dit het daartoe gelei dat die druk verkeer vanaf Gauteng na die R33-pad na Modimolle, asook die R101-pad deur Bela-Bela, herlei moes word terwyl die polisie die ongelukstoneel ondersoek en opgeruim het.

Die N1 in ’n noordelike rigting, asook die Kranskop-tolhek na Polokwane, is eers heelwat later die Donderdag weer oopgestel vir verkeer.

Ander ongelukke wat oor die naweek plaasgevind het, was op die R81 naby Giyani, die R518 naby Capricorn, die R579 in Sekhukhune en die R518 in Lebowakgomo en Mopani. Tientalle mense het ook daar hul lewens verloor.

Moremi het gesê die meeste ongelukke het plaasgevind weens roekelose en nalatige bestuur en spoed.

Een van die deurbrake wat gemaak is, was toe ’n man van Zimbabwe in Polokwane in hegtenis geneem is. Hy het volgens beamptes sonder ’n rybe-wys bestuur en boonop ’n klomp passasiers vervoer.

Twee passasiers is saam met die beskuldigde inhegtenis geneem en die drie is as onwettige immigrante aangekla, het Moremi gesê.

By die onderskeie tolhekke is daar vanaf Donderdag noordwaarts by tye ’n gemiddeld van 2 000 voertuie per uur getel, het Moremi gesê.

Charmaine van Wyk, Bakwena-woordvoerder, het by navraag gesê motorryers het Maandag met die terugtog baie kanse by die Carousel-tolhek gevat. Bakwena is in beheer van die N1- en N4-snelweë.

“Motorryers het ongeduldig geraak en sommiges het die middelman van die snelweg reg in die aankomende verkeer se bane oorgesteek. Dit het ’n uiters gevaarlike situasie veroorsaak,” het Van Wyk gesê.

Bakwena oorweeg dit om voortaan ’n versperring vanaf die Maubane-afrit tot by die Carousel-tolhek aan te bring om sulke gedrag te verhoed. Die versperring sal soortgelyk wees aan dié wat destyds tussen die tolhek en Hammanskraal aangebring is, het Van Wyk gesê.

* Besoek gerus Die Pos se Facebook-blad en kyk na die video wat deur die verkeersdepartement uitgereik is oor roekelose motorryers se optrede verlede Maandag by die Carousel-tolhek.

Related Articles

Back to top button