Local newsNews

Provinsie se paaie kreun onder Paasverkeer

“Ons verwag dat miljoene kerkgangers na hul onderskeie kerke, familiebyeenkomste, asook na Moria Zion City buite Polokwane sal reis.”

Die provinsiale verkeersowerhede sê hulle gaan geen genade teenoor wetsoortreders tydens die komende Paasnaweek (19-22 April) betoon nie.

Makoma Makhurupetje, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, het in ’n verklaring gesê die departement sal sy padveiligheidsveldtog reeds vanaf Vrydag 12 April in werking stel.

“Ons verwag dat miljoene kerkgangers na hul onderskeie kerke, familiebyeenkomste, asook na Moria Zion City buite Polokwane sal reis. Daar word swaar verkeer verwag, veral op die R71-pad na Moria, die N1-snelweg tussen Gauteng en Beitbrug, die N11, asook die Gilead-pad op pad Groblersbrug toe.”

Die departement se mikpunt is om veral padongelukke in sogenaamde omgewings waar ongelukke gereeld voorkom, te verhoed.

“Ons kan dit nie duidelik genoeg maak hoe belangrik padveiligheid is nie. Dronkbestuur is hoogs onverantwoordelik,” het Makhurupetje gesê.

“Daar is jaarliks talle noodlottige ongelukke oor Paasnaweek en dit kan slegs verhoed word indien die gedrag van motorryers verander. In die meeste gevalle verloor onskuldige mense hul lewens weens roekelose en nalatige bestuurders, asook onpadwaardige voertuie.”

Sy het gesê daar sal geen genade wees vir padgebruikers wat die reëls oortree nie.

In ’n verklaring van die Bakwena-konsessie, wat die N1- en N4-snelweë beheer, sê daar sal na verwagting tydens piek-tye tussen 2 400 en 2 800 voertuie per uur deur die Pumulani- en Carouseltolhekke ry.

Piektye word op Donderdag 18 April tussen 12:00 en 21:00 op die N1-noord-waarts en die N4 verwag.

Daar word ook swaar verkeer op Vrydag 19 April tussen 06:00 en 12:00 verwag, lui die verklaring.

Die terugtog van dié motorryers na hul onderskeie huise behoort weer aan die einde van die Paasnaweek tot druk verkeer te lei. Piektye word op Maandag 22 April tussen 12:00 en 21:00 op die N1-suidwaarts en die N4 rigting Gauteng verwag. Die provinsiale paaie waar motorryers veral versigtig moet wees, is op die R71 Mentz, R37 Ga-Chuene, N1 Botlok-wa en die R529 in die Capri-corn-distrik. In die Mopani-distrik is dit die R576 Maswanganyi- en Nhlanki-paaie, asook die R81 Zikukwane-, R71 Makhushane- en die R36 De Oaks-paaie. In Sekhukhune is die R37 in Burgersfort se sentrale sakesektor, die N11 Marble Hall en Jane Furse, asook die R555 De Hoop dam-paaie ’n bekommernis.

In die Vhembe-distrik kan die R524 Dumasi, R523 Rabali en die R578 Elim-paaie druk verkeer verwag. In die Waterberg-omgewing moet motorryers veral op die N1 naby Mook-gophong en op die N11 naby Tshamahantsi (Uitsig) versigtig wees, het Makhurupetje gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button