Local newsNews

Kinderhuis-leerders beeld Jesus-storie uit

Die hartseer, hoop en groot belofte van Paasfees het die afgelope week vir vier aande by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle afgespeel.

Die kinderhuis en sy inwoners het ’n Passiespele aangebied om die verhaal van Jesus se geboorte, kruisiging en opstanding te vertel en inwoners is genooi om dit by te woon.

Volgens Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, was die doel van die Passiespele om die kinders bewus te maak daarvan dat God mense lief het, ongeag wie of wat hulle is — en dat Hy vir hul sondes gesterf het.

“Sanger Franna Benadé en Susan Loots het gehelp om van dié Passiespele ’n besondere geleentheid te maak. Ek is oortuig daarvan dat die Passiespele nie net vir die kinders nie, maar ook vir die besoekers wat dit bygewoon het, ’n besondere belewenis was,” het sy gesê.

Die Bybelverhaal het op verskillende plekke op die kinderhuis se terrein afgespeel.

Die vlytige mense by die nuwe naaldwerksentrum het toneelspelers se uitrustings gemaak met materiaal wat aan hulle geskenk is.

Van der Merwe het gesê sy hoop dat die Passiespele, net soos Desember se Liggiefees, ’n jaarlikse instelling sal word wat besoekers sal lok. Op dié manier kan die kinderhuis, wat vanjaar sy 60ste bestaansjaar vier, ook terugploeg in die gemeenskap.

Related Articles

Back to top button