Local newsNews

Woordwoekeraars se werk word uitgestal

Die Waterberge se voetpaadjies is nie onbekend aan gerekende digters nie — Eugène N. Marais het diep spore deur hierdie berge getrap en op papier vasgelê.

Twee nuwe stemme uit dié omgewing het onlangs aandag getrek toe die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in die Paarl besluit het om die werk van Anzé Bezuidenhout van Modimolle en Margaret Cordier van Vaalwater in hul Groen Galery uit te stal. Dié galery huisves tydelike uitstallings van digkuns in die tuin agter die monument.

Margaret Cordier van Vaalwater se woorde het harte aange-gryp en haar gedig “My hart” is gekies om deel te wees van ’n tydelike uitstalling by die Afrikaanse Taalmuseum en –monu-ment in die Paarl se Groen Galery. Die eer het slegs 11 nuwe digters te beurt geval.

 

Die monument het vanjaar saam met die onafhanklike joernaal en skrywerswebwerf LitNet besluit om minder bekende digters se werk in die Groen Galery uit te stal. Die uitstalling plaas 11 digters wie se werk in 2018 en 2019 op LitNet verskyn het, in die kollig.

Bezuidenhout, wat die padstal IetsivanAls buite Modimolle bedryf, het ’n bedrywige skrywershand en het al pryse ingepalm vir haar digkuns. Sy het ’n aantal bundels self gepubliseer. Sy bedryf ook ’n webwerf met die naam www.ink.org.za waar mense hul liefde vir taal kan uitleef. Sy woon op ’n plaas net buite die dorp.

Haar gedig “Meer as nét vlam” wat sy geskryf het ná die onlangse brande in Bettiesbaai is deur die Taalmuseum gekies. ’n Uittreksel uit haar gedig lui as volg: “Overberg verstik swaar aan die reuk van rook en roet / waar die ligfakkel duisend sterre versper het / en ’n boosdoener skuldig sy hande (gemaak biddend) vou / dans vuurtonge onbeheers met grou vlerkslae / wyl ontembare oranje-goud / verstard swart littekens oor die vertes lek”.

Margaret Cordier, wat buite Vaalwater woon, het die afgelope jaar vir die eerste keer in ’n lang tyd op haar digkuns gekonsentreer. “Mens, ek was vir lank so besig om kinders groot te maak en ander dinge te doen dat dig agterweë gebly het. My kinders, Margy Pretorius en Cordier de Beer, dig, sing en skryf liedjies en het my geïnspireer om weer te dig,” het sy gesê. Cordier glo dat die Heilige Gees se invloed in haar werk wys. “Daar is altyd hoop en altyd ’n antwoord. Ek skryf dikwels oor gebrokenheid en heelwording,” het sy gesê.

Haar gedig “My hart” is gekies om in die galery uitgestal te word. “Vanoggend was ek my oë, / met die water uit jou kom / loop nou langs riviere van jare se onthou. / Talm eers aan die oewers van jou mond se stom. / Jou woorde is verminkte voëls. / Flaminke soekend na die son.”

Related Articles

Back to top button