Local newsNews

Noue ontkoming vir inwoners by S-draaie

“Ná so ’n groot skok het ’n mens sommer weer waardering vir die dinge om jou. Vanaand kan ek saam met my gesin eet en dit het so amper nie gebeur nie.”

Die gevaarlike S-draaie tussen Modi-molle en Bela-Bela het amper nóg lewens geëis nadat twee voertuie mekaar Dinsdagoggend 8 April getref het.

Dié kronkelende bergpad is berug vir die hoeveelheid ongelukke, waarvan talle noodlottig is, wat daar plaasvind.

Chris Bogaards van De Nyl Zyn Oog word deur paramedici bygestaan nadat hy in ’n ongeluk op die gevaarlike S-draaipad tussen Modimolle en Bela-Bela betrokke was. Foto’s: Herman Steyn

 

Chris Bogaards wat op die De Nyl Zyn Oog-grondpad woon, het aan Die Pos gesê hy en sy vrou, Delia, het in aparte voertuie op die R101-pad in Bela-Bela se rigting gery. “Ek het in die draai ingery in my ou Prado en Delia het reg agter my gery. Ons het stadig gery, want die pad was nat. Ek het ’n bakkie teen die afdraende sien aankom teen ’n groot spoed en besef dit gaan my tref. As ek sou uitswaai, sou dit vir Delia tref wat in ’n baie kleiner voertuig as ek gery het. Ek het maar in my baan gebly en die hou gevat,” het hy gesê.

’n Hyundai H100-bakkie het Bogaards se Prado regs voor getref en albei voertuie het gerol en op hul dakke te lande gekom. Bogaards het net ligte beserings opgedoen.

Volgens personeel van die nood-dienste was daar drie insittendes in die Hyundai wat lig tot ernstig beseer is. Die voertuig behoort glo aan ’n onderneming in Johannesburg. Die beseerdes is per ambulans na die provinsiale hospitaal in Bela-Bela geneem. Die nooddienste het volgens Bogaards ’n uur lank gespook om een van die mans uit die voertuig te bevry.

“Ek was vir baie jare lank in die polisie in die omgewing. Ons het gereeld ongelukstonele op hierdie einste draai bygewoon. Daar is inwoners in die omgewing wat beplan om stappe te doen sodat die pad veiliger gemaak word,” het hy gesê.

“Ná so ’n groot skok het ’n mens sommer weer waardering vir die dinge om jou. Vanaand kan ek saam met my gesin eet en dit het so amper nie gebeur nie.”

  • Teen spertyd was die name van die beseerdes in die ander voertuig en verdere besonderhede oor die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button