Local newsNews

Inwoner onverwags oorlede

Vriende en familie van Dries Kruger, ’n jarelange inwoner van Modimolle, het verlede week hartseer afskeid geneem ná sy onverwagse dood.

Kruger (78) is op Dinsdag 26 Maart oorlede. “Dries het vier jaar lank aan erge diabetes gely wat heel waarskynlik in sy laaste paar dae bygedra het tot hartaanvalle en dat sy longe ingegee het,” het sy swaer, Kobus Nagel, gesê.

Hy is in Swartruggens gebore en het in Rustenburg groot geword waarna hy sy vrou, Anna Nagel van die Vaalwater-omgewing, ontmoet het. Hulle is in 1961 in die Witkerk in Modimolle deur ds. Willie Conradie van Vaalwater in die huwelik bevestig. Die egpaar het hulle in Pretoria gevestig maar het ná hul aftrede na Modimolle verhuis.

Kruger was die seun van ’n myner wat onder moeilike huislike omstandighede grootgeword het, het Nagel gesê. Hy was ná skool ’n kondukteur op die destydse trems in Johannesburg, maar het sedert die begin sestigerjare vir die gevangenisdiens (vandag die Departement van Korrektiewe Dienste) gewerk tot hy in 1992 weens mediese redes met vroeë pensioen is.

Hy was van jongs af baie sportief en het verskeie klub- en provinsiale prestasies behaal. Hy was die afgelope paar jaar ’n aktiewe lid van die Nylstroom-rolbalklub.

Sy troosdiens is op Maandag 1 April in die NG-Oosgemeente in Modimolle gehou.

Hy laat sy vrou, Anna, twee seuns en hul eggenote, André en Maryna van Modimolle en Pieter en Rochelle van Pretoria, asook vier kleinkinders en een agterkleinkind agter.

Related Articles

Back to top button