Local newsNews

Konferensie slyp VLU-lede

Lede van Vroue Landbou-unie (VLU) Vaalwater-tak het op Woensdag 13 Maart vroeg in die pad geval na die jaarlikse Bosveld-streekkonferensie wat in Thabazimbi plaasgevind het.

Die takke wat vanjaar deel was van dié streekkonferensie is: Ellisras, Beauty, Northam, Marken, Baltimore, Steenbokpan, Thabazimbi, Strewe (naby Thabazimbi), Skemer (aandtak van Lephalale) en Zonnebloem (Brits/Northam-omgewing) en Vaalwater.

Die takke skryf jaarliks ’n verskeidenheid produkte in die volgende afdelings in: naaldwerk, kuns, borduurwerk, fotografie, inlê van produkte en fyngebak. Die kompetisie tussen die lede en takke om met ’n prys of trofeë huis toe te keer, is gewoonlik sterk en vanjaar was geen uitsondering nie.

Lede van die Vaalwater-tak het ook ’n groot verskeidenheid items ingeskryf waaronder produkte wat gemaak is van die bome van die jaar (maroela en appelblaar). Dit was egter dié tak se heerlike tamatiekonfyt wat die beoordelaars beïndruk het. Dié konfyt het ’n eerste én tweede plek behaal.

Ina Kotze (voorsitter van Vaalwater-tak) het ’n eerste plek en ’n spesiale prys ontvang met haar pragtige fotografie-inskrywings. Haar “dassiefoto” is aangewys as die beste op die konferensie en het 94% behaal. Kotze se oortrui-item het ’n derde prys behaal.

Berdine van Staden is nog ’n Vaalwater-lid wat goed presteer het. Sy is as beste opkomende skakelpersoon aangewys.

Wilma van der Merwe (ook van Vaalwater) het ’n vierde plek behaal met haar Assisi-kunsborduurwerk.

Die Zonnebloem-tak het die meeste gesamentlike punte behaal en is as takwenner aangewys.

Hoewel Vaalwater se vroue nie gewen het nie, is hulle baie tevrede met hul prestasies en die feit dat hulle twee plekke op die rangleer geklim het.

Related Articles

Back to top button