Local newsNews

Jeug vat voor tydens opknapveldtog

Die werkers in die bekende oranje oorpakke van die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP), die munisipale werkers én die groep jong vrywilligers het reeds vroegoggend vir werk aangemeld.

Die Good Green Deeds-veldtog het die afgelope week in Bela-Bela met ’n groot groep begeesterde jongmense, wat deel van dié opknapprojek wou wees, afgeskop.

Die eerste dag van opknap en opruim, het op Dindsag 26 Maart plaasgevind en dié dorp se jongmense het die voortou geneem. Hul geesdrif was aansteeklik en het almal wat ook aan die projek deelgeneem het, met vreugde gevul.

Die Good Green Deeds-gemeenskapsprojek is deur president Cyril Ramaphosa as ’n landwye projek gestig ter nagedagtenis van Edna Molewa, voormalige minister van omgewingsake. Sy is in 2018 oorlede en was ’n oudboorling van Bela-Bela.

Daar is reeds vroeg in Maart met beplanning vir dié veldtog begin nadat Heino van Graan, ’n leerder van Hoërskool Warmbad, met amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit onderhandel en die gemeenskap se betrokkenheid verseker het.

Mabunda- en Limpopostraat in die Bela-Bela-township, asook Roodepoortstraat in die dorp is as beginpunte vir die opruimingswerk geïdentifiseer omdat daar gereeld onwettige vullisstorting plaasvind en die gras langs dié strate baie hoog is en gesny moes word.

Nog ’n jeuggroep, Just Help, wat skoolleerders van die Bela-Bela-township insluit en aktief geraak het by die opknapping van skole, kleuterskole, kerke, ensovoorts, het ook by die projek ingeskakel.

Die werkers in die bekende oranje oorpakke van die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP), die munisipale werkers én die groep jong vrywilligers het reeds vroegoggend vir werk aangemeld.

Hoewel die skoonmaakveldtog as ’n gemeenskapsprojek geloods en alle inwoners se hulp en samewerking gevra is, het die politieke adder ook tydens dié geleentheid kop uitgesteek.

Lindy Wilson, LP vir die Demokratiese Alliansie (DA) en kiesafdelingshoof in die Waterberg, het met ongeveer 30 vrywilligers, geklee in DA-hemde, aangemeld. Daar is glo aan DA-lede gesé dat die munisipaliteit “nie kans sien om saam met die DA te werk nie,” het Wilson by navraag gesê.

Die DA-groep het toe besluit om na die dorp se sentrale sakesektor te beweeg en dáár opknapwerk te doen.

’n Munisipale vullisvragmotor het met goed beplande ritte die vuilgoed deur die loop van die dag opgelaai en weggery.

Beide jeuggroepe sê dat hulle, ondanks die feit dat die veldtog as ’n eendagprojek geloods is, nie agteroor gaan sit nie en betrokke sal bly by voortgesette opknappingsaksies in die dorp. Die twee jeugleiers, Heino van Graan en Joshua Bianeer, het gesê dat hul reeds ander projekte beplan.

“Dit is hoe jong leierskap behoort te lyk en Heino se idee, om die projek in die dorp van stapel te stuur, was briljant,” het Wilson gesê. “Dit is net jammer dat iets as ’n gemeenskapsprojek aangebied word en dan word mense weggewys.”

Related Articles

Back to top button