Local newsNews

Christa bou elke dag brûe vir kinders

Hoffmann se arms is oop vir klein lyfies wat soek na liefde.

Die Pos het by Christa Hoffmann, wat al langer as 23 jaar ’n kinderversorger by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle is, ingeloer vir die koerant se nuwe maandelikse Brugbouer van die maandrubriek.

Hoffmann se arms is oop vir klein lyfies wat soek na liefde. Bygestaan deur haar oorlede man, Sam, wat ’n bekende fotograaf in die omgewing was, het hulle omgesien na tientalle jong kinders wat versorging en liefde nodig gehad het. Sy is onlangs aangestel as senior kinderversorger.

“Ons het jare gelede kleutertjies saam op vakansie geneem see toe. Ek het by ’n kleuterskool gewerk en die kinderhuis het gevra of ek en Sam nie maar huisouers wil wees nie,” het sy vertel. “Ons het begin met ’n huis met sestien klein kindertjies waarvoor jy ma moet wees. Dit is ’n groot verantwoordelikheid.”

Sy beskryf haar werk as baie bevredigend, maar emosioneel uitmergelend wanneer ’n mens niks aan die omstandighede wat daartoe lei dat ’n kind kinderhuis toe kom, kan verander nie.

Watter liefdadigheidsinstansie lê jou na aan die hart en hoekom?
My hart is by die kinderhuis. Hoewel ’n mens nooit regtig sal weet watter verskil jy in ’n kind se lewe gemaak het nie, weet ’n mens dat jy ’n saadjie geplant het. ’n Mens wil graag onseker, bang kindertjies laat ontluik. In die kleuterhuise is seuns en meisies van verskillende kulture gemeng. Dikwels verstaan van die klein kindertjies ’n mens glad nie. My twee assistente moet dan vir ’n maand of drie tolk, maar vinnig-vinnig kry die kinders Afrikaans onder die knie en kry dan meer selfvertroue.

As jy R1 miljoen kry om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?
Ek sal gesinne en kinders wat swaarkry kos gee. In huise waar daar nie die nodige middele is nie, kry die kinders baie swaar.

Wat dink jy is die toekoms van klein Suid-Afrikaanse dorpies soos Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong?
Ek glo mense gaan meer aangewese op mekaar raak. Jy kan nie meer net op jou eie eilandjie leef nie, maar sal moet uitreik na die mense om jou.

Watter aanhaling inspireer jou?
Let go and let God. Dit was vir my hard om te leer, maar soms moet ’n mens aanvaar dat elke kind sy eie paadjie het wat jy nie vir hom of haar kan loop nie. ’n Mens moet dan leer om God te vertrou.

Watter persoon/persone het jou pad gekruis wat jou oortuig het dit is nodig om brûe te bou?
Ek het een van Nick Vujicic, wat sonder arms of bene gebore is, se boeke gelees. Wat ’n inspirerende mens. Ek het gedink: as hy kan, kan ek. Selfs met sy gestremdheid is hy getroud, het twee kinders en hy maak ’n verskil in ander mense se lewens. Mense wat swaarkry, is dikwels baie sterk mense.

Watter probleem in jou gemeenskap dink jy moet eerste aandag geniet?
Geweld oor die algemeen. Drankmisbruik is ’n groot euwel en veroorsaak vir so baie mense hartseer.

Een stukkie raad aan voornemende brugbouers?
Begin net betrokke raak by ’n organisasie. Bied hulp aan en as jy niks anders kan doen nie, bid vir hulle. Ons is so dankbaar vir diegene wat kinderversorgers ondersteun. Ons het mense uit Kokanje wat een keer ’n week kom help om kinders te versorg en aandag te gee. Kyk na versorgers met ’n sagte oog — dit is nie aldag ’n maklike werk nie.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?
Dit sal fantasties wees om in ’n gemeenskap te woon wat veilig is en mense mekaar ondersteun.

Related Articles

Back to top button