Local newsNews

Baie vrae ná vrou se selfmoord

“Ons het probeer om dit wat twee jaar gelede gebeur het, te verwerk, maar Bonita het dit erg gevat. Veral wanneer Februarie jaar op jaar opgedaag het.”

Meer vrae as antwoorde.

Dit is hoe Johan Engelbrecht van Mookgophong sy hartseer verwoord nadat sy vrou, Bonita (58), op Woensdag 20 Februarie haar eie lewe by die egpaar se nuwe woning in Mookgophong geneem het. Sy het haarself volgens Johan met ’n pistool geskiet.

Johan glo dat die gebrek aan antwoorde ná meer as twee jaar sedert Bonita in ’n woning op die terrein van Settlers Agricultural High School (SAHS) aangerand en verkrag is, tot haar selfmoord gelei het. Die voorval by SAHS het op Donderdag 16 Februarie 2017 plaasgevind.

“Ons het probeer om dit wat twee jaar gelede gebeur het, te verwerk, maar Bonita het dit erg gevat. Veral wanneer Februarie jaar op jaar opgedaag het,” het Johan gesê.

Johan vertel dat hy die oggend van Bonita se dood dorp toe was om verf te gaan koop en met sy terugkeer het hy sy ernstig gewonde vrou met ’n kopskoot op die sitkamerbank in hul huis gevind. Sy is later in die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle oorlede. Sy het ’n selfmoordbrief vir haar man gelos.

Johan het gesê dat hy geen vuurwapens besit nie en geen idee het waar Bonita die pistool, waarmee sy haarself glo geskiet het, gekry het nie.

“Ons is reeds deur hel,” het hy gesê.

Vóór die egpaar Mookgophong toe verhuis het, het hulle vir tien jaar op die SAHS-skoolterrein gewoon waar Johan instandhoudingswerk gedoen en Bonita ’n huisvrou was. Sy was bekend as ’n ywerige bakster.

Op die aand van die verkragting was sy alleen tuis. Johan was op daardie stadium in Polokwane.

Sy het destyds aan Die Pos vertel dat sy die aand vroeg gaan slaap het en wakker geskrik het toe iemand skielik aan haar voete geraak het. Die verdagtes het die agterdeur van hulle huis oopgebreek om toegang tot die huis te kry.

’n Onbekende groep mans het haar vasgebind en verkrag. Die verdagtes het glo niks gesteel nie en die polisie het bevestig dat hulle ’n saak van verkragting ondersoek.

Johan vermoed dat hy en sy vrou destyds moedswillig geteiken en geïntimideer was in ’n poging om hulle te dwing om te verhuis. Hulle het egter tot Desember 2018 op die skoolterrein gebly.

Bonita het sedert die voorval berading ontvang, maar haar gesondheid het weens die trauma agteruit gegaan.

“Die polisieondersoek wat jaar na jaar niks opgelewer het nie, het tot haar agteruitgang bygedra,” het Johan gesê.

Die egpaar was gelukkig getroud, maar ná die voorval het alles volgens Johan verander.

“Die skuif na Mookgophong was juis om weg te kom en ’n goeie aftrede saam met my vrou in ons nuwe woning te geniet, maar dit was tevergeefs,” het hy gesê.

“Bonita het vuil gevoel, sy was verneder, haar menswees was dood en daardie misdadigers het dit reggekry om haar uiteindelik te breek.” Johan het gesê dat hy teleurgesteld is in die polisie omdat twee jaar reeds verloop het en niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

“Daar moet skuldige mense daar buite wees. Iemand daar buite moet hiervoor betaal,” het Johan gesê.

“Alles wat mooi was kan ek van haar vertel, al het ons soos enige huwelik ons op en af dae gehad. Ons het geleef en sy het alles saam met my gedoen. Maar dit is nou alles weg,” het ’n bedroefde Johan gesê.

Bonita se roudiens het reeds op Maandag 25 Februarie in Modimolle plaasgevind.

Die egpaar sou in Augustus vanjaar 29 jaar getroud gewees het.

Die Pos het onlangs navrae aan die Bela-Bela-polisie gerig oor die vordering in hul ondersoek na Bonita se verkragtingsaak. Die polisie het die koerant daarna in kennis gestel dat die saak voorlopig teruggetrek is totdat die finale forensiese verslag voltooi is.

Johan sê hy is tans in gesprek met AfriForum wat hulle eie ondersoek oor die polisie se hantering van die saak doen.

Related Articles

Back to top button