Local newsNews

Wenke vir beurtkrag

Die fase 4-beurtkrag wat op Maandag 18 Maart deur Eskom in werking gestel is, het sakeondernemings én huishoudings landwyd uiters nadelig geraak.

Gewoonlik is daar tydens beurtkrag ’n toename in misdaad, maar volgens die Bela-Bela-polisie is misdaad onder beheer. Die polise vra egter dat inwoners steeds alle voorsorgmaatreëls moet tref om hul veiligheid te verseker.

Volgens die polisie word hulle werksaamhede ook deur die beurtkrag geraak en dit is veral hul administratiewe afdeling wat swaar trek. Die registrasie van sake op die rekenaar word vertraag en saaknommers kan nie by aanmelding uitgereik word nie, maar wel by ’n latere datum.

Gerhard Olivier van die RSRT-buurtwag het by navraag gesê wanneer dit volmaan is, is misdadigers gewoonlik bedrywig en word die risiko vir misdaad groter. Die onderskeie buurtwagte en veiligheidsondernemings ry dus meer patrollies en is meer aktief in sulke omstandighede.

Olivier se raad is dat inwoners goeie beligting binne én buite hulle wonings moet aanbring. Hierdie toestelle moet onafhanklik van elektrisiteit kan funksioneer. Herlaaibare batterye vir veiligheidstelsels word aanbeveel. Sorg dat daar genoeg kerse of gaslampe is in die geval van ’n kragonderbreking.

Mense moet ook die geluide in hul omgewing ken en bedag wees op vreemde klanke. Honde blaf byvoorbeeld anders wanneer hul bedreig voel of alarm maak.

Olivier het wenke wat deur die vakbond Solidariteit voorgestel is aan Die Pos beskikbaar gestel:

  • Inwoners kan ’n geregistreerde vuurwapen of pepersproei binne bereik hou indien hulle geteiken word.
  • Alarmstelsels skakel gewoonlik af tydens beurtkrag indien hul nie aan ’n alternatiewe kragbron soos ’n battery gekoppel is nie.
  • Dit is belangrik dat inwoners by hulle buurtwagte moet inskakel en hulle bure leer ken.
  • Waardevolle items moet te alle tye buite sig gehou of toegesluit word.
  • Ander alternatiewe energiebronne soos sonpanele, kragopwekkers, hout of gasstowe word ’n noodsaaklikheid.
  • Eskom se beurtkragskedules is aanlyn beskikbaar en inwoners moet beplan hoeveel water en voedsel hulle per persoon nodig het. ’n Veilige hoeveelheid voedsel en huishoudelike voorraad (nie-bederfbare voedsel, toiletpapier, plastieksakke, ensovoorts) vir omtrent twee weke se gebruik is voldoende. Nie-bederfbare voedsel en water moet in ’n koel plek gestoor word.

Inwoners moet die beplande beurtkragskedules bestudeer sodat hulle kan onderskei tussen beurtkrag en plaaslike elektrisiteitsonderbrekings. Laasgenoemde kan dan betyds by die plaaslike owerheid aangemeld word.

Volgens ’n Eskom-verklaring beteken fase 4-beurtkrag dat Eskom 4000 megawatt (MW) van die nasionale kragtoevoer op rotasiebasis uitsny sodat die diensverskaffer se volle kapasiteit nie onder druk kom nie.

Hierdie fase behels dat kragtoevoer in die meeste munisipale areas tot drie keer per dag afgeskakel kan word.

Eskom voer aan dat ten spyte van fase 4-beurtkrag geniet 80% van die land steeds krag en dat hulle jammer is vir die ongerief.

Die beurtkragskedule is beskikbaar by www.loadshedding.eskom.co.za(.)

Related Articles

Back to top button