Local newsNews

VLU-lede vier veilige fees

Die Vroue Landbou-unie (VLU) Soetdoringstreek het hul 18de streekkonferensie op Saterdag 16 Maart by Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gehou.

Die lede van die VLU-Nylstroomtak is aangewys as die algehele wenners tydens die Soetdoringstreek se onlangse konferensie. Die tak is verteenwoordig deur Dorothy de Beer, Elsa du Plessis, Dorelle Venter, Babsie Grobler, Marina Herman, Rita Ras, Wilna van den Heever, Marita Echard, Ina Lessing, Joan Schoeman, Magda Pretorius,Sus Pienaar, Mirinda Slabbert, Elsabe Dissel en Delia Bogaards.

Die Olien-aandtak van Modimolle was die gasvroue en het die besoekers op luisterryke wyse ontvang en onthaal. Die tema van die VLU Noord vir 2018 was “ My omgewing – Die Bosveld”.

Die tema vir 2019 is “Beveilig jouself”. Die tema is kreatief aan elke gas oorgedra deur onder meer die mooiste amandelkoekies in die vorm van padtekens wat saam met die tee aangebied is.

Annabe Pretorius was die spreker en het oor die herwinning van plastiek gepraat. Dr. Mariëtte Emslie het vroue vertel hoe sy ’n plaasaanval oorleef het.

Volgens egte VLU-tradisie is die vroue getrakteer op heerlike snoephappies, ’n noenmaal uit die boonste rakke en op die koop toe heerlike versnaperinge in ’n wegneemkardoesie vir die langpad huis toe.

Die VLU Nylstroom-tak is vanjaar as die algehele wenners aangewys. Hulle het die meeste punte verwerf vir artikels wat tydens die konferensie beoordeel is. Die lid van dié tak wat vanjaar as wenner uitgetree het, was Dorothy de Beer.

As lid het De Beer die meeste punte gekry vir artikels wat sy vir die kongres ingeskryf het en sy het ook ’n tweede plek gekry vir streeksartikels. Sy het ook ’n goue sertifikaat ontvang vir haar breiwerk. Verskeie ander lede het eerste, tweede en derde plekke verower.

Sus Pienaar en Dorelle Venter het ook hul 30 jaar knopies as lede van die VLU ontvang.

Die VLU gee jaarliks erkenning aan projekte wat fokus op aktuele sake, kultuur, landbou, tuinbou, kreatiwiteit, vaardighede, gesondheid en VLU- Ons eie.

Tydens die konferensie word ook erkenning gegee aan takke wat uitsonderlike prestasies behaal het. Annelie Ehlers van die Olien-aandtak is aangewys as beste skakelpersoon vir die jaar.

Aandster–tak van Mokopane het vanjaar met die louere weggestap in die afdeling vir beste administrasie.

Die vroue was dit eens dat Lilian Weber, die voorsitter van Soetdoringstreek, met haar leiding ’n puik konferensie georganiseer het.

Related Articles

Back to top button