Local newsNews

Vaalwater-vroue leer meer oor bome

Tydens die Februarie-maandvergadering van Vaalwater se Vroue Landbou-unie-tak (VLU) is lede bekend gestel aan 2019 se bome vir die jaar.

Die lede het gehoor dat daar vanjaar klem gelê word op die appelblaar (Philenoptera violacea) en die maroelaboom (Scelerocarye birrea). Albei bome kom in die Vaalwater-omgewing voor
Die appelblaar is ’n beskermde boom en gevoelig vir ryp. Die hout word onder meer vir tradisionele mieliestampers gebruik asook vir die vervaardiging van uitgeholde kano’s (mokoro’s).

Maar dit was die maroelaboom wat die inspirasie was vir die Vaalwater-vroue en hul kreatiwiteit het vlerke gekry. Dié bome dra vlesige vrugte wat ’n heerlike lekkerny vir diere en veral vir olifante is. Kameelperde is ook besonder lief vir die blare.

Die produkte wat die lede opgetower het, is uitgestal en as lekkernye aangebied om te proe. Die verskeidenheid produkte was verstommend en het maroelajellie, -likeur, -stroop vir roomys en koeldrank, -blatjang asook neute uit die pitte van maroelas ingesluit.

Nasionale boomplantdag in Suid-Afrika is op Sondag 1 September en tydens boomplantweek word Suid-Afrikaners aangemoedig om hierdie bome aan te plant en sodoende die land se natuurlike skatkis in stand te hou.

Related Articles

Back to top button