Local newsNews

Ons maak self netjies, sê inwoners

’n Groep geesdrtiftige vrywilligers wat die welstand van hul dorp op die hart dra, het die afgelope paar maande hard gewerk om Modimolle netjies te maak.

Waar die munisipaliteit nie kan bykom nie, spring dié vrywilligers in om gras op die sypaadjies te sny en die ingange na die dorp te verfraai.

Aksie Opknap is ’n niewinsgewende organisasie en skenkings wat aan hulle gemaak word, word deur ’n rekenmeester bestuur sotdat dit aangewend word om die dorp op te knap. Dié donasies word gebruik vir die aankoop van brandstof, gifdoders en vir werkers.

“Ons het ’n langtermyn doelwit en vra die gemeenskap om dit te ondersteun. As elkeen die deel om hul wonings en ondernemings skoon en netjies hou, veroorsaak dit ’n kringbeweging wat uiteindelik sal help om die dorp in ’n pragdorp te omskep,” het Erna Human gesê.

Aksie Opknap kan doen met die volgende skenkings: brandstofmodel bossiekapper, grassnyers, die beskikbaarstel van bakkies, trokke en sleepwaens vir die verwydering van vullis, donasies van plante, brandstof en onkruiddoders.

“Hierdie konsep van inwoners wat self hul dorpe netjies hou, bestaan lank reeds in eerste wêreldlande. Dorpe in Suid-Afrika soos Bonnievale en veertig ander dorpe het dit reeds begin doen,” het Human gesê.

Diegene wat betrokke wil raak, kan vir Human skakel by tel. 082 348 6925 of vir Alberta van Jaarsveld by tel. 076 812 0282.

Related Articles

Back to top button