Local newsNews

Sakeman se riooltirade deur duisende versprei

“Ons kan nie vir mense kos in k** gee nie. Ek het die mayor, Marlene, gaan sien. Sy sê sy het die position daar, maar sy kan niks doen nie. Julle het genoeg gelieg.”

’n Video wat ’n woedende sakeman van Modimolle gemaak het waarin hy kla dat swak diens van die munisipaliteit sy onderneming skade berokken, is reeds bykans 7 000 keer op Facebook gedeel.

In die opname sê JP van der Merwe, eienaar van die Buiteklub-restaurant, aan drie werknemers (net Ruan, Ouma en Cathryn genoem) dat hulle aftyd kry en geen betaling sal ontvang nie omdat die kombuis al ’n week lank gesluit is.

“Ons kan nie vir mense kos in k** gee nie,” het hy aan hulle gesê. “Ek het die mayor, Marlene, gaan sien. Sy sê sy het die position daar, maar sy kan niks doen nie,” gaan hy voort.

Hy spreek Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit daarna in ’n hewige trant direk aan oor munisipale diensleweringsprobleme.

“Julle het genoeg gelieg,” sê hy.

Van der Merwe se frustrasie spruit uit riool wat al vir langer as ’n jaar gereeld in sy onderneming se parkeerterrein inspoel. Die meegaande stank verdryf glo sy kliënte. Hulle wil ook nie deur die “riooldam” ry nie. Sy restaurant is reg langs die rivier geleë.

“Laas week het sewe voertuie net omgedraai toe hulle die gemors sien. Ek het net drie mense in die restaurant gehad in plaas van die gewone 25 kliënte. Ek ly groot skade.”

Volgens hom het hy die video op die ingewing van die oomblik uit moedeloosheid gemaak. “Elke keer as daar ’n probleem is, meld ek dit by Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste aan, maar kry nie reaksie nie. Ek het later dit ook by Van Staden aangemeld, maar die probleem word eenvoudig net nie opgelos nie. Hulle het net die rioolpyp kom oopgrawe sodat die gemors direk in die rivier loop.”

Lilian Ngoyistraat, wat reg voor die Buiteklub verbyloop, is een van die roetes wat inwoners van Phagameng dorp toe gebruik. Wanneer die riool oorloop en die pad versper, moet hulle deur dié on-higiëniese spulletjie loop en word dikwels deur verbygaande voertuie natgespat. Rioolprobleme is jare lank al ’n brandende en onopgeloste kwessie op die dorp.

Van Staden het in reaksie op die video gereageer. “Ek lieg vir niemand in die gemeenskap nie. Ek het nie in die verlede nie, en gaan ook nie nou nie. Inwoners moet in ag neem dat ek inligting van amptenare ontvang wat in verskillende departemente werk. Ek probeer dit met ander bronne bevestig, maar kan ongelukkig net op een plek op ’n slag wees.”

Sy het verder verduidelik dat politici en amptenare se magte gereguleer word deur die wet op Munisipale Strukture, die wet op Munisipale Sisteme en die Munisipale Finansiële Wet. “Onthou dat politici slegs kan kyk of amptenare wel hul pligte uitvoer en hulle dan tot verantwoording roep met die samewerking van die rekenpligtige beampte (munisipale bestuurder). Ten spyte daarvan werk al die DA-raadslede elke dag vasbeslote saam met amptenare, reël dat dinge herstel word en staan ure lank by amptenare terwyl hulle werk, soms selfs reg deur die nag,” het sy gesê.

Oor Van der Merwe se beweringe dat die administratiewe beampte, wat ook as munisipale bestuurder dien, “R100 000 per maand verdien maar nooit op kantoor is nie”, het Van Staden gesê dat Mapule Makoko se kontrak met die provinsiale departement van plaaslike regering is en nie die plaaslike munisipaliteit nie. Dit is dus die departement wat haar salaris betaal. Makoko is aangestel nadat die munisipalitetit onder sakeredding geplaas is.

“Ek self weet nie wat sy verdien nie. Sy het ernstige dreigemente ontvang dat haar lewe in gevaar is. Sy vrees vir ’n aanval op haar.”

Die dreigemente spruit glo uit ondersoeke na die munisipaliteit se finansies en kontrakte.

Van Staden het gesê dat die rioolwerke in werking is, maar eers ten volle sal werk wanneer die nasionale tesourie ’n toelaag van R20 miljoen betaal. Hulle wag egter sedert Junie 2018 daarop.

“In teenstelling met die vorige burge-meester en talle ander burgemeesters in Suid-Afrika, gaan ek elke dag in munisipaliteit toe. Ek stel belang. Ek gee werklik om wat in ons gemeenskap gebeur. Ek soek daadwerklik na elke vorm van korrupsie en vlek dit oop. Maak nie saak hoeveel teenkanting ons van amptenary en die provinsie kry nie, ons hou aan baklei. Ons het verandering gebring: ’n nuwe manier om ’n munisipaliteit te bestuur waar daar deur elke dokument gelees word, waar raadslede hul beroep ernstig opneem en verantwoordelikheid neem,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button