Local newsNews

Oop harte en beursies vir moedige klein meisie

’n Dag voor klein Ava Degenaar se sewende verjaarsdag op Vrydag 1 Maart, het die gemeenskap van Mookgophong letterlik hul harte en beursies oopgemaak vir dié dapper meisietjie wat ’n stryd voer teen ’n breingewas.

Die bekende sangeres en aktrise Sorina Erasmus het ’n gratis vertoning aangebied as fondsinsameling om te help met Ava se astronomiese mediese koste. Erasmus en Ava se pa, Jaco Degenaar, was saam in Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong. Sy het ook 50% van die verkope van haar CD’s as verjaardaggeskenk aan Ava gegee.

Die gemeenskap het soos een man by die geleentheid betrokke geraak. Phillip Bredenhan het die verrigtinge geopen en Erasmus in haar tuisdorp verwelkom. Erasmus het immergewilde treffers van Koos du Plessis gesing en die gehoor was behoorlik ontroer toe sy die bekende Gebed pragtig vertolk het.

Die veiling wat gevolg het, het inwoners na hul beursies laat gryp.

Verskeie weldoeners in die gemeenskap het interessante items en versamelaarstukke geskenk. Cecilia Bredenhan, ’n gr. 10-leerder in Hansieland, het ten aanskoue van die gehoor haar pragtige rooi vlegsel laat afsny en dié is opgeveil vir ’n rekordbedrag van R2 500. Die hare word nou aan Kansa geskenk om ’n pruik van te maak. Ava se tannie het ook haar hare laat waai vir ’n pruik vir Ava.

Net in die Bosveld kan mense se harte so warm klop dat hulle bereid is om R1 000 te betaal vir ’n stuk lekker vet beesbiltong. Die totale opbrengs van die veiling was R36 000.

Die Degenaar-familie was oorstelp oor die gemeenskap se mildelike bydraes en het hulle geloof vir die wyse waarop hulle gereageer het.

Hanlie Lancaster, onderwyser by Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong en Cecilia Bredenhan, predikantsvrou van die AP Kerk, het die reëlings behartig.

Ava is vroeg in 2018 met ’n gewas op die brein gediagnoseer en moes reeds twee operasies ondergaan. Sy ondergaan tans chemoterapie.

Volgens haar pa het die pediatriese onkoloog wat haar ondersoek en behandel het, gesê chemoterapie is nou die enigste oplossing. Sy het vroeg in Januarie 2019 met chemoterapie begin.

Haar laaste behandeling is op Vrydag 22 Maart. Dit is ’n dag waarna die Degenaar-familie baie uitsien.

Ava gaan ’n 14 dae-rusperiode hê voordat die toetse en MRI-skanderings weer begin om te bepaal of die gewas gekrimp het ná die aggressiewe behandeling,” het Degenaar gesê.

Related Articles

Back to top button