Local newsNews

Perdesiekte veroorsaak vrektes in omgewing

“Dié siekte kom al jare in suider Afrika voor en die risiko verhoog veral ná aanhoudende reën.”

Perde-eienaars is uiters bekommerd nadat perdesiekte onlangs in die Waterberg-omgewing uitgebreek het.

Volgens dr. Susanna Herbst, veearts by die Warmbad Dierekliniek, is drie perde reeds in Bela-Bela behandel waarvan twee gevrek het. In die Modimolle en Vaalwater-omgewing het daar volgens haar moontlik nog meer perde gevrek.

“Dié siekte kom al jare in suider Afrika voor en die risiko verhoog veral ná aanhoudende reën. Indien perde-eienaars nie hulle perde jaarliks tussen Junie en Oktober met ’n sekere entstof inspuit nie, kan die perde vrek,” het sy gesê. “Op hierdie stadium is dit egter te laat om perde te ent.”

Die virus word oorgedra en versprei deur bloedsuiende muggies. Die virus word egter nie van een perd na ’n ander perd oorgedra nie, het Herbst gesê.

Die simptome van perdesiekte sluit koors, depressie, moeilike asemhaling of ’n kombinasie van die simptome in. Volgens Herbst bestaan daar tans nege virusstamme (serotipes) van die siekte. Vrektes van tot soveel as 95% kan onder perde voorkom wat nie ingeënt is nie, het sy gesê.

Die sogenaamde dunkop-siekte veroorsaak dat die perd moeilik asemhaal weens vog in die longe.

Perde wat aangesteek is kan binne 24 uur vrek.

“By die dikkopvorm tas die virus die perd se hart tot so ’n mate aan dat die dier se hart kan gaan staan. Dit staan bekend as dikkop want die perd se kop swel.”

Daar is tans geen behandeling wat die virus in die kiem kan smoor nie en veeartse kan slegs die simptome behandel, het Herbst gesê.

“Eienaars kan wel fokus op insekbeheer. Hulle kan perde in stalle toemaak, die perde se immuniteit probeer sterk hou en die perde se temperatuur daagliks meet en rekord daarvan hou.”

Indien perde-eienaars simptome van perdesiekte by hul diere opmerk, moet hulle hul naaste dierekliniek kontak, beveel sy aan.

Related Articles

Back to top button