Local newsNews

Hofsake kom nadat vier kinders doodbrand

Volgens bure, het hulle ongeveer 03:00 wakker geword van iemand wat histeries om hulp geroep het. Bolle rook en vlamme het toe al uit die sinkstruktuur waar die vier kinders geslaap het, gekom.

Net ’n hopie sinkplate en as het oorgebly van die informele struktuur waarin vier kinders op Sondagoggend 3 Maart in Mookgophong doodgebrand het.

Volgens bure van die gesin en AO George Ledwaba van die Mookgophong-polisiestasie, wat drie huise van die toneel af woon, het hulle ongeveer 03:00 wakker geword van iemand wat histeries om hulp geroep het. Bolle rook en vlamme het toe al uit die sinkstruktuur waar die vier kinders geslaap het, gekom.

Omstanders het dadelik die kinders se ouma wat na hul omsien en twee van die kinders se ma, wat twee huise verder by ’n kerkbyeenkoms was, geroep. Die polisie en brandweer is ook dadelik ontbied.

Die vlamme was egter te oorweldigend en weens die gebrek aan  lopende water op die perseel in Uitbreiding 2, kon die vlamme nie geblus word nie. Hoewel die brandweer ontbied is, kon hulle nie hulp verleen nie omdat daar glo nie werkende voertuie beskikbaar was nie. Volgens raadslid Hercules Louw het slegs ’n vuurvegterbakkie opgedaag. Dit het egter nie water gehad nie.

Die oorblyfsels van die sinkhuis waar vier kinders Sondagoggend tragies in ’n brand gesterf het.

 

Die Pos het Sondag die perseel besoek en ’n verslae gemeenskap aangetref. Anna Mabela, die moeder van Mahlatji Thomas Mabela (11) en Mohau Gift Mabela (5), en Christina Mabela, die ouma van Junior Marcus Nkuna (14) en Mpho Gift Nkuna (9) was te geskok om met Die Pos te praat. ’n Groepie vroue het onder ’n tent gesit en die mans was besig om ’n dak op ’n geboutjie te sit sodat daar darem beskutting was vir die ouma, ma en ’n tweejarige sussie.

Mahlatji, Junior en Mpho het in die huis doodgebrand. Die 5-jarige Gift is in die hospitaal oorlede.


Aanklagtes van strafbare manslag word teen vier werknemers van die Waterberg-distriksmunisipaliteit beoog nadat vier kinders die afgelope naweek in Mookgophong doodgebrand het. Volgens Jacques Smalle (regs onder), provinsiale DA-leier, het die munisipaliteit al herhaaldelik met die distrik geskakel oor die skokkende toestand van die rampbestuureenheid. Nie een van die ses brandbestrydingsvoertuie in Mookgophong was volgens hom in ’n werkende toestand nie. “Die bestuurders moet verantwoordelik gehou word vir die dood van hierdie onskuldige kinders deur hul onverantwoordelike optrede deur nie die brandbestrydingsvoertuie te herstel nie,” het hy gesê.


Hooggeplaastes van die ZCC kerk in Polokwane het ook Sondag ’n besoek aan die toneel gebring en onderneem om geldelike en emosionele steun te bied.

Lebo Mogale, die voorsitter van ’n gemeenskapsveiligheidsgroep in die buurt, het aan Die Pos gesê die oorsaak van die brand is nie bekend nie. Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Anna Mabele, die ma van Mahlatji Thomas Mabela (11) en Mohau Gift Mabela (5), en Christina Mabela, die ouma van Junior Marcus Nkuna (14) en Mpho Gift Nkuna (9) vertroos mekaar ná die tragedie wat op Sondagoggend 3 Maart afgespeel en die vier kinders se lewens geëis het.

 

“Ons wag vir die uitslag van die nadoodse ondersoek, sowel as die forensiese uitslae wat sal aandui wat die brand veroorsaak het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

Die provinsiale leier van die DA, Jacques Smalle, het gesê dat hy, saam met Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, strafregtelike klagtes van strafbare manslag teen vier werknemers van die Waterberg-distriksmunisipaliteit gaan lê.

Die klagtes word gelê teen die munisipale bestuurder Morris Maluleka, die bestuurder van sosiale ontwikkeling en gemeenskapsdienste Peter Makondo, afdelingsbestuurder vir gemeenskapsdienste Moses Sithole en die hoof van die distrik se rampbestuureenheid, Dan Mokonyane.

Volgens Smalle het die munisipaliteit al herhaaldelik met die distrik geskakel oor die skokkende toestand van die rampbestuureenheid.

Nie een van die ses brandbestrydingsvoertuie in Mookgophong was volgens hom in ’n werkende toestand nie. “Die bestuurders moet verantwoordelik gehou word vir die dood van hierdie onskuldige kinders deur hul onverantwoordelike optrede deur nie die brandbestrydingsvoertuie te herstel nie,” het hy gesê.

Die Pos het verlede jaar in Oktober berig dat die rampbestuureenheid, wat deur die distrik bestuur word, nie opgewasse sal wees indien ’n ramp plaasvind nie.

Die munisipaliteit sal die kinders se grafte gratis verskaf en hulp verleen met die begrafnis, het Van Staden gesê.

Makoma Makhurupetje, die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, het haar meegevoel met die familie betuig maar ook ouers gewaarsku om met groter sorg na hul kinders om te sien.

’n Oom van die kinders, Frans Mabela, was verslae en baie hartseer oor die tragiese gebeure. Hy het bevestig dat geen begrafnisreëlings nog bekend gemaak is nie. Junior was ’n leerder van Hoërskool Makutisja en die ander drie was in Laerskool BB Matlaila.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button