Local newsNews

Gru-ongeluk eis vyf lewens

Tobie Kritzinger (40) van Mookgophong het op Donderdagaand 28 Februarie saam met sy skoonsuster, Martie de Klerk (36), en haar drie seuntjies in ’n gru-ongeluk op die N1-snelweg naby die Carousel gesterf.

De Klerk en die seuns was van Polokwane.

Kritzinger het op die betrokke dag saam met hulle na Pretoria gereis om sy identiteitskaart en nuwe bestuurderslisensie te gaan haal.

Sy wapenlisensies vir twee nuwe vuurwapens is ook goedgekeur en hy sou dit in Springs gaan afhaal het.

De Klerk en die seuns, Johan (10), Barend (8) en Altus (5), het afsprake gehad en sou Riaan Hoffman (De Klerk se lewensmaat) se seun se verjaardag-partytjie op Vrydag 1 Maart bywoon.
Volgens Joyce Kritzinger, Tobie se vrou, het hy sy neef, waar hy die aand sou oornag, om 19:30 gebel en gesê dat hulle reeds verby Hammanskraal is en dat hy hulle in Queenswood moet ontmoet.
’n Rukkie ná 20:00 het die neef vir Joyce gebel en gesê dat Tobie nie sy selfoon antwoord nie en dat hy reeds geruime tyd vir hulle wag.

“Nadat ek eindelose kere gebel het, het ek Tobie se broer, Natie (ook ’n inwoner van Mookgophong) gevra of hy ook sal probeer om hom in die hande te kry. Ek het ook vir Riaan gevra om te hoor of Martie al by sy ma is, waar sy sou oorslaap. Daarna het ek my oudste sussie, Lucy Venter, gebel in die hoop dat Tobie dalk by hulle is en sy selfoon in die voertuig was. Martie sou naaldwerk by Lucy gaan voltooi het,” het Joyce aan Die Pos gesê.

Toe Kritzinger nie by hulle is nie, het sy haar swaer, Gerhard Venter, en veiligheidsgroepe in Pretoria versoek om te begin soek.

Liné Meiring, wat saam met Tobie gewerk het, het intussen sy werkselfoon probeer opspoor.

“Lucy het besonderhede aan die Tshwane-metropolisie deurgegee van die rooi Kia Picanto waarin hulle gereis het. Daar was drie ongelukke wat ná 19:00 op die N1 tussen Hammanskraal en Pretoria plaasgevind het,” het sy gesê.

Venter het Joyce kort daarna gebel om haar in te lig dat Tobie-hulle in ’n ongeluk betrokke was en die metropolisie het die familie versoek om na die ongelukstoneel te kom.

“Ek het Riaan laat weet en hy het gesê hy ry dadelik in Polokwane en sal my in Mookgophong oplaai. Intussen het ek weer vir Lucy gebel. Sy het net gehuil en gesê dit was ’n baie lelike ongeluk en dat al vyf op slag dood is nadat hulle teen ’n vrag-motor gebots het,” het Joyce vertel.

Nooddienstepersoneel op die toneel het volgens haar twee uur gesukkel om die vragmotorbestuurder uit die kajuit te bevry en te stabiliseer.

“Riaan en ek is net ná middernag uit Mookgophong.

“Ons het op die ongelukstoneel stilgehou, die formaliteite hanteer en gesien hoe hulle my sussie en die seuntjies oplaai. Ons het handskoene gekry en is versoek om in die wrak te soek vir selfone en ander persoonlike items.

“Ons het stukkies van Martie se foon gekry, wat verklaar hoekom daar geen kommunikasie was nie. ’n Polisieman het vir my gesê hulle het twee selfone opgetel wat heeltyd bly lui het, maar hulle het nie geweet aan wie dit behoort nie. Dit was Tobie se fone wat uit sy hempsak moes geval het,” het Joyce vertel.

Martie se seuntjies is die Kritzingers se peetkinders en het die Donderdag toe hulle in Mookgophong aangedoen het om gou badkamer toe te gaan, verjaardaggeskenkies vir Joyce, wat die vorige dag 38 geword het, gebring.

Hulle wou hê dat ek saamry Pretoria toe, maar ek wou net ’n stil dag tuis hê,” het sy gesê.

’n Privaat verassingsdiens is op Dinsdag 5 Maart in Pretoria gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button