Local newsNews

Glibberige inligtingsessie by laerskool beoog

Die dag sal interaktief wees met klein en groot, asook giftige en nie-giftige slange.

Inwoners van Modimolle kry eersdaags ’n besonder “glibberige” geleentheid wanneer ’n prettige inligtingsessie oor slange in die dorp aangebied word.

Theunis Victor, bekende slangvanger van die omgewing, nooi Waterbergers na dié inligtingsessie wat op Saterdag 23 Maart om 09:00 by Laerskool Nylstroom aangebied word.

 

Lede van die Limpopo Snake Removals-organisasie sal inwoners bewus maak van slange en hul gewoontes. Die dag sal interaktief wees met klein en groot, asook giftige en nie-giftige slange.

Die dapperes sal onder streng toesig toegelaat word om van die slange te hanteer.

Die hoogtepunt sal ongetwyfeld wees wanneer ’n wipneuskobra en swartmamba aan gaste gewys sal word.

Alle veiligheidsmaatreels sal streng toegepas word.

Daar sal ook gefokus word op slangbyte en Cor Viljoen, kundige van African Reptiles and Venom, sal aan gaste wys hoe slange vir hul gif “gemelk” word.

Nog ’n kundige, LD Pienaar, sal sy kennis oor skerpioene met die besoekers deel.

Die dag word in samewerking met die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme gereël. Almal is welkom om die dag saam te geniet en te leer hoe om op te tree wanneer hulle slange teëkom of deur ’n slang gebyt word.

Toegang kos R20 per persoon. Vir meer inligting bel vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910.

Related Articles

Back to top button